Engel vir Tiaan se hoop
Die jong Tiaan Bouwer (8) moet dringend 'n lensvervangingsoperasie kry en sy ouers, Deon en Martelize, behoort nie aan 'n mediese fonds nie en kan nie die operasie laat doen voordat hulle nie genoeg geld daarvoor ingesamel het nie.
POLOKWANE – Die jong Tiaan Bouwer (8) moet dringend ‘n lensvervangingsoperasie kry en sy ouers, Deon en Martelize, behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en kan nie die operasie laat doen voordat hulle nie genoeg geld daarvoor ingesamel het nie.
“Toe Tiaan een jaar en vyf maande oud was, het hy in die hospitaal beland met ‘n ooginfeksie. Die dokter vermoed dis waar die probleem begin het. Volgens die dokter sou ‘n lensvervanging dalk nie nodig gewees het as die skade betyds opgetel was nie,” het Deon aan Review vertel.
Deon het verduidelik hulle het agtergekom Tiaan se regteroog trek effens skeef en het besluit om hom na ‘n oogkundige te neem. “Daar het hulle ‘n fout in sy ogie gesien en ons na ‘n oogspesialis, verwys.”
Martelize het vertel dat hulle nog R18 000 nodig het om vir Tiaan se lensvervanging te betaal.
“Dit gaan goed met Tiaan. Hy sukkel nog met sy skoolwerk, maar nie meer soos voorheen nie.
“Ons weet nog nie wanneer die operasie gaan plaasvind nie, maar ons wil kyk of ons dit in die Junie-skoolvakansie kan laat doen,” het sy gesê.
Dewald Gouws, gewilde sanger van Polokwane, het op Facebook van Tiaan gelees en, nadat Deon hom gevra het om vir Tiaan te bid, besluit om die gesin te help.
“Ek het gebel en my dienste aangebied. Dis iets klein wat mens doen om te help,” het Dewald vertel.
Dewald gaan sy nuwe CD, Stuur My, binnekort in Limpopo vrystel tydens ‘n konsert waarvan al die winste vir Tiaan se operasie geskenk sal word.
Stuur My bestaan uit 17 musieksnitte en 20 lofprysing- en aanbiddingsvideos.
Die musiekvideos is spesifiek met die lirieke van die liedjies as onderskrifte vervaardig sodat gemeentes, selgroepe, kerkkampe en individue dié videos kan gebruik as leiding.



