Muni skel Aretha Tehuis se bestuur uit
Die bestuur van Aretha Tehuis is Woensdag na bewering lelik uitgetrap deur 'n senior amptenaar van die munisipaliteit, wie se identiteit aan Review bekend is.
POLOKWANE – Die bestuur van Aretha Tehuis is Woensdag na bewering lelik uitgetrap deur ‘n senior amptenaar van die munisipaliteit, wie se identiteit aan Review bekend is.
Dit volg na Review se berig dat die munisipaliteit steeds nie die tehuis se probleme met hul munisipale rekening na twee maande se gesukkel opgelos het nie. In dié berig het Ina Koen, matrone vertel hoe amptenare van die munisipaliteit haar gewaarsku het om nie die media met haar probleme te skakel nie.
Ina se man, Johannes, het vertel hoe die vrou hom sleggesê het. “Sy was baie ongeskik en wou nie na rede luister nie. Sy was ongelukkig omdat ons met die koerant gepraat het en het gesê daar is niks fout met ons watermeter nie en dat die watermeterlesing op die munisipale rekening korrek is. Ek het vir haar gesê die munisipaliteit se tegnici het self erken dat daar probleme met die watermeter is en dat ons ‘n nuwe een moet opsit sodat hulle die ou een kan stuur vir toetse, maar sy wou net glad nie na rede luister nie.”
Ina het vertel sy het R230 betaal vir ‘n nuwe watermeter, maar die munisipaliteit het volgens haar nooit die nuwe watermeter kom opsit nie.
“Ek het haar gevra wanneer kom ons nuwe watermeter, maar die vrou het net gesê sy weet nie,” het Johannes verder vertel.
Die tehuis se munisipale rekening het vandeesmaand op R32 000 gestaan. Sedert Augustus verlede jaar, het die tehuis se munisipale rekening gewissel tussen R6 000 en R32 000. Volgens Ina het die probleem reeds in Julie verlede jaar begin en elke maand het die rekening met R3 000 gestyg, al het hulle getrou die rekening betaal. Sy het bewyse van elke maand se betalings.
Tidimalo Chuene, ‘n munisipale woordvoerder, kon teen druktyd steeds nie kommentaar lewer nie.



