Huurder breek huis se binnemure af
Die Westenburg polisie is opsoek na 'n vrou wat na bewering 'n HOP-huis in Westenburg gevandaliseer het.
POLOKWANE – Die Westenburg polisie is opsoek na ‘n vrou wat na bewering ‘n HOP-huis in Westenburg gevandaliseer het.
Die beweerde voorval het Maandag plaasgevind nadat die vrou glo ‘n finale waarskuwing van die hof ontvang het dat sy die huis moet ontruim teen die einde van die maand.
Die eienaar van die huis, James Buys, het die huis al in die middel van verlede jaar gekoop.
Hy werk in Nigerië en sy broer, Christiaan Buys, is tydelik verantwoordelik vir die huis.
James het verduidelik dat, toe die huis amptelik oorgedra is op sy naam, het hy die vrou in kennis gestel dat hy nou die eienaar van die huis was. Hy het gesê hy het voor-gestel dat sy nog in die huis aanbly en huur aan hom betaal.
“Die vrou wou nie huur betaal nie en daarom het ek haar gevra om vir haar ander blyplek te soek. Sy het geweier en gesê sy gaan nêrens nie. Ek het toe besluit om regsstappe te neem,” het hy aan Review verduidelik.
Volgens James se vrou, Mimsie Moon, was hulle in die begin van die maand in die hof en die vrou het toe ‘n finale waarskuwing gekry om die huis te ontruim teen die einde van die maand.
Christiaan het gesê mense wat in die HOP-area woon het hom gebel en gesê die vrou was besig om die huis af te breek.
“Toe ek Dinsdagoggend by die huis kom was sy reeds weg.
“Die huis se binnemure is platgeslaan en die kombuiskrane is weg. Sy het ook die plafonplanke afgebreek. Ek weet nie wat het die vrou besiel nie.”
Hy het die voorval aan die polisie gerapporteer, maar kon nie ‘n saak maak nie, want volgens die polisie kon net die huiseienaar ‘n saak maak.
Mimsie het Dinsdagmiddag van Johannesburg na Polokwane gery om ‘n saak te maak. Niemand is in verband met die voorval gearresteer nie.
Review het die vrou wat beskuldig word van die vandalisme verskeie kere probeer kontak vir kommentaar, maar sy het nie haar selfoon geantwoord nie en ook nie op SMS-boodskappe gereageer nie.
Gisteroggend (Woensdag) was die vrou se selfoon afgeskakel. Teen druktyd het sy nog nie op Review se stempos gereageer nie.
Westenburg polisiewoordvoerder, kapt. Mohlaka Mashiane het bevestig dat die Wes-tenburg polisie ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging ondersoek en dat niemand sover in verband met die voorval gearresteer is nie.



