Local NewsNews

Saartjie maak ‘n verskil in lewens

Jy kan nie hierdie werk doen as jy nie 'n pad met die Here stap nie, vertel Saartjie du Toit, huismoeder van die Polokwane Nasorgsentrum, 'n tehuis vir verstandelik-gestremde mense in die stad.

POLOKWANE – Jy kan nie hierdie werk doen as jy nie ‘n pad met die Here stap nie, vertel Saartjie du Toit, huismoeder van die Polokwane Nasorgsentrum, ‘n tehuis vir verstandelik-gestremde mense in die stad.

“Baie van hulle is nie meer kinders nie, maar ek noem hulle steeds my kinders,” vertel Saartjie. “Hier is 15 kinders wat inslaap en 14 dagbesoe-kers,” sê sy.

Haar werk behels dat sy by die tehuis inbly en na die inwoners omsien. “Ek is elke dag 24 uur lank op diens. Ek moet sorg dat die kinders se ma-gies vol is. Wanneer hulle pyn verduur moet ek help.

“Ek help hulle om aan te trek, maar ek laat ook toe dat hulle self ontwikkel. Ek probeer hulle so kalm as moontlik hou. Die seuns werk buite in die tuin en die meisies help in die huis. Ek is tevrede as ek ‘n verskil in een kind se lewe kan maak,” sê sy.

Saartjie was in Hoërskool Pietersburg. Direk nadat sy gr. 12 klaargemaak het, is sy getroud. Sy het na skool by ‘n bank gewerk en later het sy vir ‘n versekeringsmaatskappy gewerk.

Sy vertel dat haar skoonsuster haar een Sondag gebel en gevra het of sy belang sou stel om huismoeder te wees van die Polokwane Nasorgsentrum. “Ek het nie vir een oomblik getwyfel nie en het op 1 April 2008 hier begin.”

Saartjie het nie kinders van haar eie nie en behandel die inwoners en dagbesoekers van die tehuis soos haar eie kinders.

“Die moeilikste van my werk is dat ek wens daar was meer geld vir medikasie vir die kinders. Hulle almal is op een of ander vorm van medikasie en moet dikwels ‘n spesialis of dokter gaan sien. Die geld vir hierdie uitgawes is net doodeenvoudig nie altyd beskikbaar nie.”

Tog is daar goeie tye ook in haar werk. Sy vertel met ‘n glimlag dat dit darem baie lekker is dat die kinders jou onvoorwaardelik aanvaar.

Laastens gee sy raad aan ander huismoeders. “Stap ‘n pad met die Here. Hy moet jou hand vashou. Jy kan nie die pad loop sonder Hom nie. Hy is vir ons baie goed. Wanneer ons iets nodig het, stuur hy dit vir ons.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button