Hennie Pheiffer sterk aan na ongeluk
Hennie Pheiffer, 'n bekende besigheidsman van Polokwane en eienaar van Mighty Electrical in Peninapark, is Dinsdag ernstig beseer in 'n motorongeluk naby Kranskop.
POLOKWANE – Hennie Pheiffer, ‘n bekende besigheidsman van Polokwane en eienaar van Mighty Electrical in Peninapark, is Dinsdag ernstig beseer in ‘n motorongeluk naby Kranskop.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar volgens Hennie se vrou, Lizel, het Hennie agter in ‘n vragmotor vasgery en sy bakkie het gerol weens die impak.
Hennie word tans in die Montana Netcare Hospitaal in Pretoria behandel. Hy het verskeie beserings tydens die ongeluk opgedoen en sal volgens Lizel vir X-strale gestuur word en deur ‘n hartsjirurg ondersoek word om die omvang van sy beserings te bepaal.
Sy sê Hennie het sy borsbeen in die ongeluk gebreek.
“Ek is baie dankbaar dat die Hemelse Vader vir Hennie nog vir ons gespaar het. Hy moet nou net gesond word en gou weer huistoe kom. Ek wil aan al die mense wat mooi boodskappies stuur baie dankie sê vir al die ondersteuning en mooi wense. Julle beteken vir ‘n mens baie in hierdie moeilike tyd,” het sy gesê.



