‘SY IS DIE EEN!’
Bernadine Hugo glimlag skaam terwyl haar verloofde, Gert du Preez, van die dag vertel toe sy hart dié taal begin praat het.
POLOKWANE – “Sy is die een!”
Bernadine Hugo glimlag skaam terwyl haar verloofde, Gert du Preez, van die dag vertel toe sy hart dié taal begin praat het.
In die drie jaar wat hulle al saam is, het hulle immers al vele sakke sout moes opeet.
Hoe het hulle ontmoet?
Bernadine vertel: “Ek en my familie het gaan uiteet toe my ma hom sien en hom nooi om by ons te kom sit. Ek het hom van korfbal af geken en eintlik lankal van hom gehou.”
Sy was in die sewende hemel toe hy haar die volgende dag bel.
Dit was kort na die eerste afspraak, en later ‘n Kaapvakansie by Gert se vriende, dat sy hart die pas aangegee het: Dit was nou of nooit.
Die verlowing, kort voor Kersfees verlede jaar, kon darem twee dae langer gewag het, meen Gert.
Bernadine: “Dit was twee dae voor Kersfees en ek was ongeduldig om my geskenke oop te maak. Ek het aangehou en aangehou en die pakkie oopgemaak.”
Groot was haar verrassing toe die pakkie nie oorbelle nie, maar ‘n ring ingehad het.
“Ons het ons amptelike verlowingsdatum 25 Desember gemaak, al het ek die ring vroeër gekry,” skerts sy.
Die paartjie is duidelik versot op mekaar.
Daar is ‘n sagtheid wanneer hy vir haar kyk, en sy beskryf hom as haar droomman.
Maar swaar tye was daar ook.
Bernadine is laat verlede jaar met kanker gediagnoseer. ‘n Operasie was nodig, asook chemoterapie en bestraling.
Die troukalender moes opsygeskuif word, en die spaarvarkie vir hulle troue en wittebrood moes nou sy deel bring om die mediese koste te dek.
Dit was ‘n stresvolle tyd, stem hulle saam.
“Die nuus het ons beïnvloed, maar nie negatief nie. Alles het so goed gegaan en ons het so uitgesien. Wat drie maande was het soos jare gevoel.”
Gert was haar steunpilaar in haar moeilike tyd: “Ek het soms magteloos gevoel. Met my werksure kan ek nie altyd saam met haar wees tydens die chemo of bestraling nie. Maar my liefde vir haar is groot. Groter as dié ding.”
Die wedersydse verstaan tussen hulle is opmerklik.
“Ons verstaan mekaar goed en bring die beste in mekaar uit.”
Review se nuus om hulle droomtroue te bewaarheid, was vir hulle oorweldigend.
“Ek het seker 380 keer gesê ek kan dit nie glo nie. Ons is so dankbaar,” sê Bernadine.
“Dis nie sommer dat iemand in vandag se tyd nog so iets vir ‘n medemens doen nie.”
• Gert en Bernadine trou op 30 Augustus vanjaar.
Review sal dié opwindende reis met hulle meemaak. Hou gerus hierdie spasie dop. – Red.



