Local NewsNews

DBV lê vir Johann na aan die hart

Johann Loubser, senior finansiële adviseur by Old Mutual in Polokwane, is sedert verlede jaar (2013) Januarie in die pos van voorsitter van die bestuurskomitee van die DBV in die stad.

POLOKWANE – Johann Loubser, senior finansiële adviseur by Old Mutual in Polokwane, is sedert verlede jaar (2013) Januarie in die pos van voorsitter van die bestuurskomitee van die DBV in die stad.

Loubser is eintlik in Johannesburg gebore en getoë, maar het die laaste 20 jaar van sy loopbaan in bestuursposte by Old Mutual in Kaapstad gewerk.

Dis voor hy in Polokwane einde 2012 kom aftree het. Hy voeg by dat dié stad se klimaat baie aangenaam is en die mense hier ook baie gaaf is. Hy het later weer by die werksmag aangesluit.

“In Kaapstad het my werk my te besig gehou om enigsins by gemeenskapsprojekte betrokke te raak, alhoewel ek as ‘n jongman ‘n lid van die Lionsklub op Middelburg was.

“Toe ek aftree sê ek toe vir myself dat ek met my tyd iets wil doen wat ‘n verskil vir Polokwane se gemeenskap sal maak.

“Die DBV was die ideale geleentheid.”

Hy het in November 2012 met die DBV gaan kennis maak en is in 2013 deur die vereniging genader om betrokke te raak.

“Toe ek egter in daardie maand opdaag vir die DBV se eerste bestuursvergadering, is ek alreeds aangewys as ‘n lid in die bestuurskomitee,” sê hy al laggend.

“Ek het glad nie omgegee nie, want ek het geweet met my jarelange bestuurservaringe by Old Mutual sal ek hierdie nuwe uitdaging kan aanvat.

“Maar dis ontmoontlik om die gemeenskap almal tevrede te stel, het ek gou ervaar, alhoewel ek hierdie pos as voorsitter sommer baie geniet,” sê Loubser.

As voorsitter van die DBV se bestuur wil hy graag so veel mense as moontlik gelukkig hou, en sê indien mense klagtes het moet hulle nie twee keer dink om met die vereniging in verbinding te tree nie.

Dit raak hom diep om verby die hokke te stap waar die diere aangehou word.

“Dis ontmoontlik om al die diere aan te hou, as ons weekliks nuwe diere ontvang waarvoor daar eienaars gesoek moet word.”

Hy sê dit is ongelukkig so dat alle diere nie nuwe tuistes vind nie.

Volgens Johann is dit belangrik dat mense ‘n deurdagte besluit sal neem wanneer hulle op ‘n troeteldier besluit.

“‘n Mens kan nie ‘n aggressiewe hond byvoorbeeld neem as een van jou familielede in vrees vir sulke honde lewe nie, want ek sien hoe mense sulke verkeerde keuses maak en dan uiteindelik weer die troeteldier weer terugbring DBV toe, want hulle kan dit nie meer aanhou nie”, vertel hy.

Diereverwaarlosing is vir hom skreiend.

Natuurlik het diere ook emosies, antwoord hy dié vraag sonder om twee keer te dink.

Hy ruim ook enige verwarring uit die pad rakende die aanneemproses van diere by die vereniging.

“Wat die aanneming van troeteldiere by die DBV aanbetref, gaan dit gepaard met ‘n baie streng keuringsproses wat ons baie nou toepas.

“Maar soos troeteldiere het mense ook verskillende persoonlikhede, en ek moet heeltyd daarby aanpas.

“Om enige onderneming suksesvol te bedryf is goeie oordeel en oorsig baie belangrik.”

Hy lê klem op die kwessie van goeie samewerking by die DBV.

“Ek het ‘n uitstekende span mense op ons bestuur wat almal die DBV op die hart dra en sonder hulle sou ek my taak nie maklik kon vervul nie,” vertel hy. “Ek glo ek maak ‘n verskil, en ek sê as ‘n mens nie ‘n verskil maak nie, dan moet jy eerder aanbeweeg sodat iemand anders wat dit beter kan doen, dit dan doen,” sê hy.

Die Polokwane DBV se adres is kleinhoewe nommer 46, Lancedale op die Roodepoortpad.

Die DBV se nommer is (015) 291 1088.

Die DBV-bestuur se kontaknommers vir enige navrae of klagtes is:

• Johann Loubser – 084 583 1008

• Eddie Caldeira – 083 775 2514

• Mike Henning – 083 227 6892

• Debbie Mouton – 082 670 2676

• Tanya le Roux – 082 401 2020.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button