Local NewsNews

Dorpswag se deure steeds oop

Die Dorpswag in Makhado staan sterk.

MAKHADO – Die Dorpswag in Makhado staan sterk.

Die deure van die Dorpswag in Makhado het en sal nie nou sluit nie, is die woorde van Anton Peyper van die Dorpswag.

Die doel van die dorpswag, volgens Peyper is:

• om openbare bewusheid van veiligheid te skep;

• misdaadvoorkoming en die beskerming van families en hul eiendom;

• om die ore en oë van die Suid-Afrikaanse polisie te wees;

• as waghond oor die gemeenskap te waak en;

• ‘n veilige misdaadvrye omgewing na te streef.

Die afgelope tyd heers daar onsekerheid oor die Dorpswag, veral na die bedanking van die voorsitter Dirk Meissenheimer.

“Dit was vir ons as raad ‘n groot skok om van die bedanking in die koerant te lees. Dit alles omdat die raad besluit het dat die pligte onder die raadslede verdeel moet word en dat een persoon nie alles moet doen nie,” sê Peyper.

“Die Dorpswag gaan nog voort en is sterk op pad. Ons is tans besig om alles weer op datum te kry en vra die gemeenskap om nie na stories te luister nie. Ons gaan binnekort ‘n nuwe voorsitter kies en ons was die afgelope maand baie besig in die dorp. Die Dorpswag was betrokke by ‘n paar arrestasies en het ‘n paar mense bygestaan met hulp.

“Die dorp is in vier sektore ingedeel met elkeen sy eie sektorleier. Daar moet elke aand drie georganiseerde skofte per sektor per nag van twee ure per skof gery word. Dit is nie altyd moontlik nie weens die tekort aan lede en fondse. Die lede doen alles vrywillig en op hul eie onkoste. Weens die brandstof pryse is daar van ons lede wat dit nie meer kan bekostig nie. Dorpswag maak slegs staat op skenkings,” vertel Peyper.

Die Dorpswag is op soek na nog lede, veral jonger lede om die las te help verlig.

“Ons weet dis nie lekker om in die winter of reën uit te gaan nie, maar dis die tyd wat die misdadiger op sy aktiefste is. Ons doen dit almal vir ons families en ons weet dat as ons hulp nodig het sal daar ‘n paar mense opdaag om ons te help,” sê Peyper.

As jy wil aansluit, ‘n skenking wil maak of betrokke wil raak by die Dorpswag, skakel vir Anton Peyper by 072 868 6288 of die kantoor by 082 251 0827.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button