Geopereer na 27 dae se wag
Vir Steven Miller is die lang wag op 'n operasie uiteindelik verby.
POLOKWANE – Vir Steven Miller is die lang wag op ‘n operasie uiteindelik verby.
Miller het 27 dae in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gelê en wag om ‘n operasie te ondergaan nadat hy sy regterkniegskyf in ‘n motorfietsongeluk vergruis het.
Hy en sy vrou, Marie, het ‘n opdraende stryd teen die hospitaal gevoer voordat hy verlede Vrydag geopereer is.
Na sy ongeluk op 21 Junie, is hy in die Evander Hospitaal opgeneem en later na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorgeplaas.
Marie het vertel hoe sy wonde na twee weke in die Evander Hospitaal begin stink het en dat sy geen ander keuse gehad het as om sy wonde self te versorg nie, omdat die verpleegpersoneel dit nie gedoen het nie.
Sy het gesê dieselfde het in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gebeur.
Volgens Marie het sy verskeie kere vergaderings met die hoof van die hospitaal aangevra, maar niemand het ooit ag geslaan op haar versoeke nie. Sy het ook ‘n klag by die departement van gesondheid ingedien.
Sy het vertel dat die verskonings wat aan hulle voorgehou is vir die lang wag vir die operasie gewissel het van teaters wat nie gereed was nie en ‘n personeelstaking.
Gesondheid woorvoerder, Macks Lesufi, het gesê die Millers se klag sal ondersoek word en die nodige stappe sal geneem word.



