Grondhervorming: departement se doelwitte ly onder geldtekort
Die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling in Limpopo sal nie sy restitusie-doelwitte vir die volgende jaar kan bereik nie.
POLOKWANE – Die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling in Limpopo sal nie sy restitusie-doelwitte vir die volgende jaar kan bereik nie.
Die provinsiale grondeisekommissaris, Thele Maphoto, het verlede week in die Wetgewer gesê die departement het nie genoeg geld om sy restitusie-doelwitte vir die volgende jaar te bereik nie.
Maphoto het gesê dat slegs 1,5% van die 664 uitstaande grondeise in Limpopo oor die verloop van die volgende boekjaar afgehandel sal kan word.
Die begroting sal ook nie vergroot word oor die mediumtermyn nie.
Philippie de Beer, streekvoorsitter van TLU SA-Noord, wou weet waar gaan die geld heen.
“Daar word elke jaar miljoene vir grondhervorming begroot, maar daar is nooit geld om eise af te handel nie,” het hy gesê.
Die begroting vir restitusie in Limpopo beloop R412 miljoen vir hierdie jaar en Maphoto meen daar is geen kans dat dit vergroot sal word nie.
De Beer het aan Review gesê hy glo daar moes al baie meer vordering met restitusie wees as mens kyk na die bedrae wat elke jaar begroot en bestee is. “Hoe is dit dat ons so min het om te wys? Bestee hulle dit op salarisse?”
Willem van Jaarsveld, voorsitter van Agri Limpopo, het gesê hy is bly om te hoor die departement erken uiteindelik dat daar nie geld is vir hierdie grondeise nie.
“Ons is diep bekommerd dat politici en amptenaars nou eers agterkom dat hulle nie hul restitusiedrome kan bekostig nie,” het hy gesê.
Hy het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking wat dit gaan hê op die mense by wie daar die verwagting van grond geskep is.
Hy meen daar word ook nuwe verwagtings geskep met die onlangse heroopstel van die grondeiseproses.
“Agri SA wou van die begin af weet hoe hierdie proses gefinansier gaan word,” het hy gesê.
Hy het verduidelik boere sal die gevolge moet dra vir die “politiekery” rondom grond en het gesê Agri SA gaan daadwerklike pogings aanwend om die situasie op die grond positief te hou.
“Ons weet nie aldag presies hoe nie, maar ons sal alles doen wat ons kan.”
Volgens die DA se leier in Limpopo, Jacques Smalle, is die departement se finansiële posisie ‘n ernstige bekommernis vir die DA, aangesien die party wettige grondeise afgehandel wil sien.
Hy meen ook dat opkomende boere bygestaan moet word ten einde sukses te behaal met hulle boerdery.
Smalle het gesê hy betwyfel dat die departement die nuwe boere suksesvol sal kan bystaan as hulle nie die eise kan bekostig nie.
Hy het vra vir ‘n hersiening van die departement se geldprobleme en die agterstand met grondeise.



