Oom Chris van der Lidth oorlede na 14 jaar diens
Die parkeerarea by ingang 1 van Savannah Mall sal nie dieselfde wees na die dood van Chris van der Lidth nie.
POLOKWANE – Die parkeerarea by ingang 1 van Savannah Mall sal nie dieselfde wees na die dood van Chris van der Lidth nie.
Só sê gereelde besoekers aan hierdie inkopiesentrum oor die nuus dat Oom Chris, soos almal Van der Lidth geken het, Sondag aan ‘n hartaanval gesterf het.
Oom Chris het vir 14 jaar lank motors opgepas by Savannah Mall. Hy was ‘n bekende en geliefde gesig op die parkeerarea by ingang 1 waar hy elke dag getrou op sy pos gestaan het.
‘n Inwoner het aan Review vertel hoe Oom Chris altyd ‘n interessante brokkie nuus of ‘n grappie gereed gehad het om moeë inkopiegangers se dae op te kikker.
‘n Voormalige motorwag wat saam met hom gewerk het, het gesê dat die ander motorwagte na hom opgekyk het.
“Hy het nie een dag se werk gemis nie, selfs nie toe hy teen kanker gestry het nie. Sy werk was sy trots en vir hom was elke dag in die weer en wind ‘n kans om kos op die tafel te sit vir sy gesin. Baie mense sien neer op motorwagte, maar Oom Chris was vir ons almal ‘n voorbeeld en inspirasie.”
Maud Pieterse, Oom Chris se skoonsuster, het gesê sy het die dag voor sy dood oor die telefoon met hom gepraat en hy het nog ‘n grappie gemaak voordat sy afgelui het.
“Sy dood is baie onverwags en steeds onwerklik vir ons. Ons gaan hom baie mis, sy plekkie is leeg. Hy was die tipe persoon wat mens een keer ontmoet en nooit vergeet nie.”
Polokwane inwoner Juanita Vermaak het aan Review vertel dat sy gereeld inkopies doen by Savannah Mall en dat sy altyd veilig gevoel het wanneer Oom Chris aan diens was.
“Hy het altyd gehelp waar hy kon en net nooit gehuiwer om ‘n sambreel nader te bring wanneer dit gereën het nie. Hy sou eerder self sopnat reën as om toe te laat dat een van sy kliënte natword.
“Daar is te min van sy soort oor in die wêreld. Ons gaan hom beslis mis,” het sy gesê.
Oom Chris word oorleef deur sy vrou, Ann, sy dogters Ann en Maria, en sy seuns Dawid, Jeandre en Chris.



