Dood van 3 tieners in net 4 dae stuur skokgolwe deur Polokwane
Die dood van drie tieners het die afgelope week skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

POLOKWANE – Die dood van drie tieners het die afgelope week skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Nicole Botha (18) is verlede Donderdag in ‘n motorongeluk dood nadat ‘n vragmotor teen die dubbelkajuit-bakkie waarin sy en haar ma, Lisa, gery het, gebots het.
Volgens Jeff Botha, Nicole se pa, was ma en dogter oppad na die Blouberg-ryskool waar Nicole ‘n ruiter was, met Lisa aan die stuur. Lisa is in die hospitaal opgeneem en vir haar beserings behandel. Sy sterk tans tuis aan.
Nicole was Curro Heuwelkruin Hoërskool se onderhoofmeisie vanjaar en volgens Eben Lingefelder, skoolhoof, was die skool bevoorreg om haar as leerder te hê.
“Nicole se onkreukbare karakter en puik maniere was ‘n voorbeeld vir almal. Heuwelkruin neem afskeid van een van sy blinkste sterre.” Sy is Dinsdag vanuit die AGS Taberna Dei Ooskampus begrawe.
‘n Fratsongeluk het Sondag die lewe geëis van Zander Smith (14), ‘n gr. 8-leerder van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.
Volgens Zander se ma, Riana, het hy sy pa, Pieter, gehelp om die windpomp op hulle plaas reg te maak toe sy baadjie in die windpomp se meganisme verstrengel geraak het. “Sy pa het hom probeer help, maar hy het self ook verstrengel geraak. Die nooddienswerkers moes hom uitsny. Zander is dood in die ongeluk,” het sy vertel.
“Pieter was Dinsdag vir vier ure in die teater, maar hulle kan eers teen Donderdag sê of hy sy arm gaan verloor of nie.” Pieter word tans in die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria behandel.
Karin de Jager, Zander se graadvoog het vertel dat Zander nederig was en altyd tyd gemaak het vir sy maats. “Hy was ‘n mense-mens en ons gaan hom vreeslik mis.”
Zander se niggie se vriend, Paul Buitendag, het vertel Zander het ‘n spesiale plekkie in sy hart gehad.
Geen begrafnisreëlings vir Zander is nog getref nie.
Sondag het Heuwelkruin nóg ‘n leerder aan die dood afgestaan.
Riané van den Berg (14) is skielik oorlede en, volgens Lingenfelder, vind leerders en onderwysers dit moeilik om sin te maak uit hierdie geliefde leerder se dood.
“Sy was ‘n stil en geliefde kind,” het hy vertel.
Hy het gesê berading sal beskikbaar wees vir die leerders en personeel om hulle te help om hierdie twee tragedies te verwerk.
Riané se pa, Adriaan, werk in die buiteland en onder hierdie tragiese omstandighede het haar ma, Hilde, besluit om eerder te wag tot sy terugkeer voordat sy enige belangrike besluite neem.



