Sakpasidees met jou tuinblomme
Die lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Finesse-aandtak het saam met c gekuier en meer geleer oor blommerangskikking.
Die lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Finesse-aandtak in die stad het verlede Maandag saam met Beatrice Loots van die Pietersburg Noord-tak gekuier en meer geleer oor blommerangskikking.
Loots het ‘n blommerangskikkingsdemonstrasie gelewer by Finesse se maandvergadering. Die tema van die aand was: Iets uit Jou Tuin vir Jou Huis.
“Blomme is deesdae baie duur, maar ‘n mens hoef nie baie geld te spandeer om ‘n pragtige blommerangskikking in jou huis te hê nie.
“Mens kan iets pragtigs skep met plante uit jou tuin. As jy wil weet of iets lank gaan hou, los die blom of plant sonder water vir 10 minute en as dit daarna nie verlep het nie, sal dit hou,” sê Loots.
Loots se demonstrasie aan die vroue het die volgende behels:
Sy het ‘n oase geneem en dit in ‘n klein glasbakkie gesit.
Daarna het sy twee lang groen riete geneem, gebuig en in die oase gedruk. Toe het sy helderkleurige Clivia-blomme tussen die riete ingedruk.
Indien die vroue varkore sou wou gebruik vir hul blommerangskikkings, het Loots hul aangeraai om die varkore eers in soutwater te los vir ‘n rukkie of sout aan die gesnyde gedeelte te smeer, want sy sê dit hou dan langer.
Na Loots se demonstrasie het die vroue die aand afgesluit met vingerhappies en tee.





