Inwoners kla koopkrag is te duur
Volgens inwoners is koopkrag amper net so duur soos gewone munisipale elektrisiteit.
Sy vertel: "Ek koop R300 se krag dan hou dit nie eers twee weke nie, dit is hoe duur koopkrag geword het. In die verlede het R300 se krag 'n mens drie weke of amper 'n maand gehou. Dit is ook simpel hoeveel BTW daar afgetrek word wanneer 'n mens krag koop, dis amper die helfte van die bedrag wat mense koop. Ek kan eerlik waar sê ek spandeer meer geld op krag as op kruideniersware."
Inwoners van die stad sê hulle twyfel deesdae of dit die moeite werd is om koopkrag te gebruik.
Volgens die inwoners is koopkrag amper net so duur soos gewone munisipale elektrisiteit.
Martina Adepears (48) sê haar koopkrag vir die maand wissel tussen R600 en R700. “Dit is duur, maar ek is gelukkig want ek kry ‘n munisipale subsidie omdat my inkomste minder as R3 500 per maand is. My munisipale rekening vir die maand was R90 en dit maak dit moontlik vir my om koopkrag te bekostig. Maar die mense wat nie die munisipale subsidie kry nie, trek swaar, want hulle betaal ‘n hoë munisipale rekening en moet nog krag koop,” verduidelik Adepears.
Suzette Louw (50) sê koopkrag is belag-lik duur. “Ek spandeer R800 op koopkrag elke maand en dan het ek nog my munisipale rekening van meer as R500 wat ek moet betaal. ‘n Mens kry aan die begin van die maand ‘n paar ekstra eenhede by, maar dis so min mens kan dit nie eens ‘n bonus noem nie.
“Die krag raak so vinnig klaar ‘n mens het nie ‘n keuse as om vir ‘n tweede of derde keer te koop nie. Dan word daar ‘n kwart van die bedrag afgetrek vir BTW. My dogter het onlangs gaan krag koop, dit was ons tweede koop vir die maand. Sy het R250 se krag gekoop en ons het net 170 eenhede gekry vir daar die prys,” verduidelik Louw.

“Die hele doel van koopkrag was om mense te help wat nie die munisipale krag kan bekostig nie. Nou kos die koopkrag amper net soveel soos munisipale krag. Dis mos nie reg nie. Mens kan vergeet om R50 se krag te koop, want dit hou nie eens drie dae nie. Ek koop eenmaal ‘n maand R350 se krag, en soms hou dit nie, dan moet ek plan maak vir geld om nog krag te koop,” sê Rambau.

“Ek koop aan die begin van elke maand krag, want dan kry ‘n mens so ‘n paar ekstra eenhede by. Ek koop R350 se krag, maar dit hou ook net-net vir die maand. Daar is party dae wat ek bekommerd is dat die krag nie die hele maand gaan hou nie, want sodra die krag onder 100 eenhede is dan loop die een-hede vinnig uit. Wat my verbaas is dat ons nie eens ‘n geyser het nie, maar ons krag loop so vinnig uit,” vertel Titus.



