Local NewsNews

Inwoners van Makhado is moedeloos oor padwerke

Vir die inwoners en besigheidseienaars van Kortstraat in Makhado het die padwerke in die straat vele probleme geskep.

MAKHADO – Vir die inwoners en besigheidseienaars van Kortstraat in Makhado het die padwerke in die straat vele probleme geskep.

Volgens ‘n inwoner is munisipale werkers vir ses weke lank al besig om aan Kortstraat te werk en die padwerke het ‘n geweldige invloed op die vloei van verkeer.

Die inwoner sê aan die begin van die projek is die straat heeltemal toegemaak en slegs mense wat in Kortstraat woon kon toegang verkry.

“Later het hulle die straat oopgemaak, maar die padoppervlak was so sleg dat mens op die sypaadjies moes ry. Nou het alle werk aan die straat verlede week tot stilstand gekom. Niemand werk meer aan die straat nie en alles is onder die stof,” sê hy.

Nettie Geerdts, nog ‘n inwoner van Kortstraat sê die munisipaliteit kommunikeer glad nie met die inwoners oor die stand van sake nie.

“Gaan hulle die straat nou net so onvoltooid los?

“Ek woon nie net in hierdie straat nie, my kleuterskool is ook hier. Dit is vir die ouers baie moeilik om hulle kinders by die skool te kom aflaai of te kom haal en dit loop elke dag op chaos uit,” vertel sy.

‘n Besigheidseienaar het met Review gepraat oor die kwessie en gesê sy besigheid ly onder die padwerke.

“Mense vermy eerder Kortstraat omdat dit so ‘n groot gemors is en so moeilik is om hier te ry. Ek het ongelooflik baie besigheid verloor. Ek kan nie glo dat die werk aan die straat nou al vir ‘n week lank stilstaan nie,” het hy gesé.

Review het die Makhado Munisipaliteit genader vir kommentaar oor die padwerke in Kortstraat, maar teen druktyd was geen kommentaar beskikbaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button