Mans kan ook aan borskanker ly
Borskanker onder mans is nie baie algemeen nie, maar is net so gevaarlik soos borskanker onder vroue.
POLOKWANE – Borskanker onder mans is nie baie algemeen nie, maar is net so gevaarlik soos borskanker onder vroue.
Volgens Kansa se webtuiste is 1% van alle bors-kankerpasiënte mans.
Polokwane inwoner Francois Joubert is vanjaar met borskanker gediagnoseer.
Francois, ‘n pa van drie, is in Junie met metaplastiese borskanker gediagnoseer.
“Dit is ‘n baie skaars soort borskanker. Slegs sowat 1% van borskankerlyers kry dié tipe borskanker,” verduidelik Francois.
“Ek het in Mei reeds die knop gevoel en vir toetse en ‘n biopsie gegaan. Die dokter het gesê die gewas is nie kwaadaardig nie, maar dit het vreeslik vinnig gegroei; tot soveel as twee sentimeter per dag.”
Francois en sy vrou, Johlize, was nie tevrede met die diagnose nie en het aangedring op ‘n tweede opinie. Francois is gediagnoseer met borskanker. Hy vertel op die dag van die operasie waarin hy ‘n totale mastektomie ondergaan het, was die gewas reeds 20cm in deursnee.
“Ons was nie so geskok oor die tyding dat dit kanker was nie, want ons het navorsing gedoen en verwag dat dit kanker sou wees. Wat ons wel geskok het, was die aggressie van die gewas. Ek het ook vooraf besluit dat ek nie chemoterapie en bestra-ling wou hê nie, want dit is gif wat in jou liggaam ingepomp word.
“Die dokter het egter ook vir ons gesê dat hierdie soort kanker nie reageer op chemoterapie en bestraling nie,” vertel Francois.
Hy vertel dat hy en Johlize weer navorsing gedoen het en besef het dat hulle maar moet wag en sien of die gewas weer groei. Tot dusver het dit nie weer gegroei nie.
Francois se ma is aan kanker oorlede en hy sê hy en Johlize het besef dat hulle drasties iets sal moet doen om die kanse vir kanker in hul kinders te verminder.
“Ons glo kanker is ‘n leefstylsiekte. Ons volg nou ‘n alkaliese dieet aangesien kanker op die suur in jou liggaam teer. Ons eet so min as moontlik verwerkte kos en drink nie gaskoeldranke nie.”
Johlize het vertel hulle het met ‘n skok agtergekom hulle mediese fonds dek nie borskanker nie en raai mense aan om seker te maak dat hul fondse wel behandeling en onkologie dek.
“Ons het baie gesukkel om uiteindelik net ‘n paar duisend rand, wat nie eers genoeg was vir die teater of doktersonkostes nie, uit die fonds te kry.”
Francois vertel dat mense hom nie glo dat hy siek is nie aangesien hy nooit siek gelyk het nie. “My hare het nie uitgeval nie, want ek het nie chemoterapie gekry nie, so mense dink ek jok.”
Laastens sê hy dat daar altyd hoop is. “Mense moet nie moed op gee nie, doen navorsing en kry so veel as moontlik tweede opinies.”



