POLOKWANE – Vrydagoggend het die gr. 8-leerders van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé by die skool aangemeld vir die eerste dag van die Tominator-oriënteringskamp.
Benoud het hulle rondgestaan en gewonder wat die seniors vir hulle beplan het om hulle tuis te laat voel by die skool.
Die gr. 8’s, opgedeel in spanne en elkeen met ‘n spanhemp aan, het besef hier kom moeilikheid toe hulle aangesê is om aan te tree langs ‘n moddergat. Daarna het dinge nogal morsig geraak.
Eers moes hulle in ‘n mengsel van gras en eiers rol waarna hulle deur ‘n moddermengsel moes rol en kruip. Die gr. 12-leerders kon nie verduidelik wat presies in die moddermengsel was nie, maar die stank was ondraaglik.
Hierna moes die gr. 8-leerders saamwerk om oor verskeie hindernisse te kom. Kort-kort kort is hulle aangemoedig met krete van die gr. 12’s soos “spanwerk” en “ons doen dit vir die span”.
Andri Cronjé het gesê sy het die oriëntering baie geniet en voel al soos ‘n ou gevestigde Tommie.
“Al die aktiwiteite was baie lekker, behalwe daai modder,” het sy gesê.
Vir Tebogo Motsopye was die ervaring 50/50 verdeel tussen heerlik en aaklig. “Ek het maar net probeer om nie kwaad te raak oor die modder nie,” was haar stoïstiese benadering tot die oriëntering.
Met ‘n reuse glimlag op sy gesig het Kamogelo Machaba gesê dat hy gevoel het asof hy op ‘n militêre kamp was en hy het elke oomblik geniet.
Vir Ashley Jooste was die oriëntering ook lekker, al het die modder vreeslik gestink.
Die gr. 8-leerders het Vrydagaand by die skool geslaap en Saterdag hul spankrete geoefen. Saterdagaand het die ouers mekaar ontmoet en het die leerders hul verskillende krete geskree.



