Local NewsNews

Afrikaanse skole se matrieks kraai koning in wiskunde

LEERDERS aan Afrikaanse skole het byna 'n derde van al die wiskundeonderskeidings ingeoes wat deur die matrikulante van 2014 behaal is.

LEERDERS aan Afrikaanse skole het byna ‘n derde van al die wiskundeonderskeidings ingeoes wat deur die matrikulante van 2014 behaal is.

‘n Ontleding deur Solidariteit Helpende Hand se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) toon dat 7 198* matrieks aan 1 767 skole in 2014 hierdie bielie van ‘n vak met ‘n onderskeiding kon slaag. Uit hierdie getal is 2 242 onderskeidings aan 243 Afrikaanse skole behaal.

“Dit beteken dat 31% van alle wiskundeonderskeidings afkomstig is van slegs 13% van die skole waar onderskeidings in dié vak behaal is,” verduidelik dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand.

“Ons ontleding toon duidelik dat Afrikaanse skole buitengewoon goed presteer in wiskunde. Op grond van die getal wiskundeonderskeidings behaal, was 8 uit die 20 beste skole Afrikaanse skole.”

Daaronder tel: Afrikaanse Hoër Seunskool (55 onderskeidings); Paul Roos Gimnasium (53); Hoërskool Menlopark (52); Hoër Meisieskool Bloemhof (48); Hoërskool D.F. Malan (45); Hoërskool Outeniqua (43); Hoërskool Overkruin en Hoërskool Waterkloof (41 elk) en Paarl Gimnasium (39). Die vyf skole wat in 2014 die meeste wiskundeonderskeidings behaal het, is Bishops (80 onderskeidings); Westerford High School (64); Rondebosch Boys’ High School (58); Pretoria High School for Girls (56) en Afrikaanse Hoër Seunskool (55).

Op nasionale vlak lyk die wiskundeprentjie egter allesbehalwe rooskleurig, met slegs 35,1% van alle matrieks wat verlede jaar wiskunde geskryf het wat dié vak met ‘n gemiddeld van 40% of meer kon slaag.

Boonop het die totale getal wiskundeonderskeidings van 2013 na 2014 met meer as ‘n duisend, vanaf 8 217 onderskeidings in 2013 na 7 198 in 2014, gedaal. Kenners meen egter dat aanpassings in die kurrikulum ‘n bydraende faktor hiertoe was.

Brink maan dat hoewel die gehalte van wiskundeonderwys by talle Afrikaanse skole gesond is, die staat meer moet doen om te verseker dat onderwysers en leerlinge by alle skole genoegsaam toegerus is om hoër prestasie in dié uitdagende vak aan te moedig.

“Juis daarom het Helpende Hand drie jaar gelede die VAW op die been gebring.

“Dié afdeling van Helpende Hand fokus spesifiek op die professionele ontwikkeling van Afrikaanse wiskundeonderwysers deur kursusse en kongresse aan te bied. Omdat onderwys ‘n uiters dinamiese en uitdagende beroep is waarin die kurrikulum, aanbiedingsmetodes en tegnologie gereeld verander, is dit noodsaaklik dat geleenthede aan onderwysers gebied word om te groei.

“Hoe beter die onderwyser toegerus is, hoe meer baat die leerling in die klaskamer,” sê Brink.

Ondersteuning aan wiskundeonderwysers gaan vanjaar uitgebrei word met die bekendstelling van ‘n nuwe wiskunde e-boek, kursusse, kongresse en ‘n Afrikaanse wiskunde-app.

Vir matriekleerlinge word ‘n landswye winterskool in samewerking met Akademia, die hoëronderwysinstelling van die Solidariteit Beweging, beplan.

*Volgens data wat van die departement van basiese onderwys ontvang is, is 7 198 onderskeidings in wiskunde behaal. Dit verskil egter van die departement se eie verslag (Technical Report) van die uitslae waarin aangetoon word dat 7 216 wiskundeonderskeidings behaal is. Dit kom neer op ‘n verskil van 18 onderskeidings tussen die twee weergawes. Aangesien Helpende Hand in besit is van oorspronklike data waarin die onderskeidings per eksamenlokaal aangeteken is, is die ontleding en afleidings hierop gebaseer en is 7 198 as die ware getal onderskeidings gereken.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button