Local NewsNews

‘Ons veg in Henda se hoek’

Weke lank het die ringbal-gemeenskap van Polokwane, Henda Nel se familie en vriende, en almal wat vir hierdie pragtige jong vrou omgee uitgesien na die pretdag ten bate van Henda se mediese uitgawes.

POLOKWANE – Weke lank het die ringbal-gemeenskap van Polokwane, Henda Nel se familie en vriende, en almal wat vir hierdie pragtige jong vrou omgee uitgesien na die pretdag ten bate van Henda se mediese uitgawes.

Saterdag sou ‘n dag van pret en vermaak asook uithaler ringbal- en potjiekoskompetisies wees, het die organiseerders belowe.

Vrydagmiddag het ‘n wolkbreuk oor Polokwane losgebars en almal het asem opgehou en gebid dat die weer Saterdag sou saamspeel.

Saterdag het aangebreek en elkeen betrokke kon ‘n sug van verligting slaak, want dit was ‘n pragtige sonskyndag met net ‘n wolkie hier en daar om bietjie verligting teen die hitte te bied.

Vroeg reeds het die organiseerders en deelnemers stalletjies opgeslaan, kabels aangelê en die vure vir die potjies reggekry. Saterdag was immers Henda se dag.

Die doel van die pretdag was om geld in te samel vir Henda, wat aan T-sel akute limfatiese leukemie ly. Hierdie tipe kanker sluit die beenmurg-, brein-, senuwee- en limfstelsel in. Sy ly ook aan leukemie, bloedkanker.

Henda het dringend ‘n beenmurgoorplanting nodig en om geld in te samel vir hierdie prosedure, asook die mediese toetse vir potensiële skenkers, het die ringbal-gemeenskap van Polokwane Saterdag ‘n pretdag by die Polokwane-ringbalbane aangebied om geld vir Henda se mediese uitgawes in te samel.

“Henda is ‘n kranige ringbalspeler en die geld wat ons ingesamel het, gaan gebruik word om potensiële beenmurgskenkers te laat toets,” het Sanda Lubbe, Henda se ma, vertel.

Daar was 12 spanne wat om die potjiekosprys meegeding het en 23 ringbalspanne het deur die dag sake op die bane uitgespook.

Ook het musiekante van JP Duvehage se Rock Hard Music School gesorg dat daar deur die loop van die dag vermaak was.

Dawie en Antoinette Lindner het gesorg vir die musiek.

Oral was stalletjies van mense wat items ten bate van Henda verkoop het.

Letitia Prinsloo het ‘n donasie gemaak sodat Henda haar hare moet afskeer.

“Is tannie seker? Dis regtig nie nodig nie,” het Henda gekeer, maar uiteindelik is Letitia se hare afgeskeer. Ook het Henda haar neef, Barend Lombard, wat al die pad van Mokopane af gekom het, se hare afgeskeer. “Sy is my niggie. Ek doen dit vir Henda” het hy trots vertel.

Nadat al die ringbalspanne gespeel het, het Nic de Beer van Ark Afslaers ‘n veiling aangebied waar produkte soos rekenaardrukkers en pette opgeveil is. Dié produkte is geskenk deur plaaslike besighede.

Uiteindelik het DJ Ossewa die pretdag afgesluit met ‘n konsert wat gaste tot in die vroeë oggendure laat dans het.

“Tot dusver het ons net meer as R88 000 vir Henda ingesamel. Ons het egter nog R295 000 nodig om vir alles te betaal. Ek hoop die geld wat ons tot dusver kon bymekaarmaak spoor mense aan om nog donasies te maak,” het Sandra gesê.

“So ver as wat mens hier loop vertel mense jou van hoe ‘n lieflike en geliefde mens Henda is. Ek is hier vir Henda. Ons veg in haar hoek,” het Patricia Opperman, een van die deelnemers aan die pretdag, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button