NewsSchools

‘Waterwerke met ‘n uitsig’ by Oosskool

Twee jaar gelede het die verteenwoordigende leerlingraad (VLR) van Laerskool Pietersburg-Oos besluit om ablusieblokke by die skool se sportvelde op te rig.

POLOKWANE – Twee jaar gelede het die verteenwoordigende leerlingraad (VLR) van Laerskool Pietersburg-Oos besluit om ablusieblokke by die skool se sportvelde op te rig.

Nadat die bouproses begin is, het die skool se beheerliggaam besluit om ook ‘n losie bo-op die nuwe ablusieblok te laat bou.

Verlede Donderdag het Oosskool se beheerliggaam, die VLR van 2013, personeel en gaste die nuwe ablusieblok en losie ingewy.

Oosskool se hoofseun van 2013, Jean-Pierre Viljoen, het gesê dit was sy graadgroep se droom om iets vir Oosskool na te laat om dankie te sê vir die wonderlike onderrig wat hulle daar gekry het.

“In 2013 was ons 13-jarige voete stewig geplant in Oosskool se grond. Ons onderwysers, juff. Adri Lambrechts en mnr. Chris Smit het ons met hul leiding en aanmoediging geïnspireer om die ’13ste 13’ ooit te wees,” het hy gesê.

Jean-Pierre het vertel hoe hy en sy klasmaats gewoeker het om geld in te samel met projekte soos die tentedorp, ‘n kampgeleentheid vir Oosskool se leerders op die skool se sportvelde, en ‘n gholfdag.

“Ons het ook wildskaartjies wild en wakker verkoop waar die gelukkige wenners jagtogte kon wen. Danksy Oosskool se uitstekende beheerliggaam, het hierdie skool vandag waterwerke met ‘n uitsig.”

Sy pittige opmerking het die gaste, insluitend waarnemende skoolhoof Lizette Olivier, laat skater.

Chris Smit het Oosskool se personeel, die VLR van 2013, die VLR-lede se ouers en die beheerliggaam bedank vir hul bydrae tot die projek.

Hy het ook die argitekte wat die planne vir die ablusieblok en losie gratis opgetrek het, bedank.

“Vir almal wat vanaand se inwyding moontlik gemaak het, wil ek ook dankie sê. Dankie aan Annamart Dorfling en ons faktotum, oom Willem Vos.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button