Drank en seks by skole atletiek
Die kringatletiekbyeenkoms wat by een van die dorp se plaaslike skole plaasgevind het verlede Woensdag, het in chaos geëindig.

LOUIS TRICHARDT – Die kringatletiekbyeenkoms wat by een van die dorp se plaaslike skole plaasgevind het verlede Woensdag, het in chaos geëindig.
Volgens ouers wat met Review gepraat het, op voorwaarde van anonimiteit, het die atletiekbyeenkoms soos enige gewone atletiekbyeenkoms begin.
Een van die ouers het vertel: “Die leerders van ons plaaslike skool het nog klasse bygewoon tot 11:45. Net na 08:00 het busse vol leerders reeds by die skool opgedaag. Dis waar die moeilikheid begin het. Sewe van ons plaaslike leerders se tasse is gesteel en leeggemaak om drank in te smokkel by die sportgronde. Die skoolboeke is later die middag gevind.
“Die atletiek het net na 12:00 begin en nie lank daarna nie, het die chaos begin. Ek het in die badkamer ingestap en op twee van die ander skole se leerders afgekom waar hulle besig was om seksuele omgang te hê. Ek het hulle uitgejaag en hulle het arrogant gevra wie ek dink ek is
“Ons atlete wat by die byeenkoms was, was bang. Daar is bottels gebreek en die leerders wou mekaar met die bottels steek. Die drank kon van ver geruik word”.
Nog ‘n ouer het gesê dat sy nie dink dit die leerders self was wat chaos veroorsaak het nie, maar die toeskouers wat saam met die leerders gekom het.
“Volgende jaar gaan ons dinge op ‘n ander manier probeer doen. Ons gaan daarna kyk om geen toeskouers toe te laat nie. Ons sal beamptes by die hekke moet plaas en dan vir identiteitsdokumente of geboortesertifikate vra, want elke atleet het dit nodig.
“Hierdie byeenkoms is baie belangrik en dit is ‘n groot byeenkoms vir die atlete wat Limpopo uitdunne toe gaan; ons atlete moet veilig voel by die byeenkoms en dis ons plig om hulle te beskerm,” het sy gesê.
“Na afloop van Woensdag se kringatletiek wil ek as ouer die Louis Trichardt Dorpswag en die polisie bedank vir hulle vinnige bystand en hulp om die terrein skoon te kry van hierdie booswigte.
“Dankie aan die skool wat die byeenkoms aangebied het se personeel wat die situasie goed hanteer het. Laastens wil ek die plaaslike skool se leerders bedank dat hulle nie betrokke geraak het by die chaos nie en dat hulle ons skool se naam steeds hoog gehou het,” het ‘n andre ouer in ‘n brief aan Review gesê.
Louis Trichardt polisiewoordvoerder, konst. Irene Radzilane het gesê niemand is in hegtenis geneem in die verband nie.
“Twee leerders is gewaarsku, een vir die drink van alkohol in die openbaar, en die ander omdat hy dronk was.”
Teen druktyd is geen kommentaar by die departement van onderwys se woordvoerder, Paena Galane, ontvang nie.
Die betrokke skool se skoolhoof het met Review gepraat en die onderskeie voorvalle wat die ouers genoem het bevestig. Hy het beklemtoon dat die atletiekbyeenkoms deur die departement van onderwys gereël is en dat die skool slegs die fasilitiete verskaf het.



