Editor's choiceLocal NewsNews

Dylan is die appel van sy ma se oog

Dylan Mackie word aan die einde van die maand 15 jaar oud, maar sal altyd sy ma, Marika, se baba bly.

POLOKWANE – Dylan Mackie word aan die einde van die maand 15 jaar oud, maar sal altyd sy ma, Marika, se baba bly.

Dylan is serebraal gestrem weens komplikasies kort na sy geboorte.

“Hy is op 31 weke gebore en moes in die neonatale-intensiewe-sorgeenheid bly.

“Hier het hy begin epileptiese aanvalle kry en die pediater het voorgestel dat hulle ‘n lumbale punksie en skanderings doen om te sien wat fout is. Daar het hulle toe drie ‘kolle’ op sy brein gevind,” verduidelik Marika.

“Hierna het die dokter vir ons verduidelik dat hy dalk gestrem sou wees. Toe hy net ‘n maand oud was het Dylan breinvliesontsteking opgedoen en daarna epileptiese aanvalle gekry. Dit het hom serebraal gestrem gelaat.”

Behalwe vir Dylan het Marika en haar man, Greg, nog twee kinders, Mickayla en Jean; beide jonger as Dylan.

Volgens Marika aanvaar almal in die familie vir Dylan ten volle.

Ook help die ander twee kinders en Greg vir Marika om hom te versorg.

“Daar is goeie tye. Ons lag elke dag saam met Dylan.

Hy reageer en lag. Hy begin ook nou die woord ouma gebruik. Nie sommer enige tyd nie, maar wanneer hy sy ouma sien. Hy verstaan roetine en sal kan leer hoe om te praat en te kommunikeer,” sê Marika.

Marika werk by ‘n kleuterskool en dus kan Dylan elke dag saam met haar werk toe gaan. Hier kry hy dieselfde stimulasie as die kleuters.

“Baie mense vra vir my hoekom ek Dylan nie in ‘n sorgsentrum plaas nie, maar dit is nie nodig nie. Ek kan self die stimulasie gee wat hy nodig het en dan sien ek hom elke dag. As hy in ‘n sentrum is, kan ek hom nie elke dag sien nie. Ons hanteer alles maar dag vir dag. Dit is nie altyd maklik nie, maar ek sal dit enige tyd weer doen. Dylan gee ons hoop. Hy sprankel.”

Marika vertel hoe Dylan soos die wysers van ‘n horlosie draai wanneer sy hom op die mat neersit. Ook druk hy homself aan sy arms op. Hy het ook 100% sig en gehoor.

Alhoewel Dylan nog gevoer moet word en doeke dra, kan hy normale kos eet en drink hy self uit sy spesiale drupvrye koppie. Hy slaap ook goed.

“Soms kan mens agterkom dat hy gefrustreerd raak, maar dit gebeur darem nie dikwels nie,” sê Marika.

Dylan is een van die mense wat ‘n spesiale rolstoel van die Assosiasie vir Persone met Gestremdhede ontvang het na verlede jaar se Wheelchair Wednesday-projek.

Volgens Marika maak hierdie rystoel nie net Dylan se lewe makliker nie, maar ook die res van die familie se lewens makliker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button