Oom Ted se Midmar
TED en Mart Beukes is 'n ware inspirasie vir die jonger generasie wat mens laat besef jy is nooit te oud om jou passie voluit te beoefen nie.
MOKOPANE – TED en Mart Beukes is ‘n ware inspirasie vir die jonger generasie wat mens laat besef jy is nooit te oud om jou passie voluit te beoefen nie.
Bosveld het by hulle in hul pragwoonstel in die Piet Potgieter Monument ouetehuis gaan kuier om te probeer uitvind wat hulle geheim is en is daar met ope arms verwelkom.
Ted (85) spog met die trofee vir die oudste manlike deelnemer wat vanjaar aan die Midmarmyl deelgeneem het, terwyl Mart (84) met trots al haar man se medaljes van oor die jare uitpak.
Ted is al vir 24 jaar lid van die meesterswemmersklub en hierdie was sy 24ste Midmarmyl wat hy voltooi het. Hy neem ook elke jaar aan die Meesters nasionale swemkampioenskappe deel, wat hierdie jaar op 16 Maart in Ellispark plaasgevind het. Ted het hier met twee goue en vier silwer medaljes weggestap en het asook ‘n merkwaardige trofee vir die beste vordering in die 50 m kruipslag in die meesterswemmerafdeling verower.
Ted het deelgeneem aan die 800 m, 400 m, 100 m en 50 m kruipslag asook die 50 m borsslag in die 85-90 jaar ouderdomsgroep.
“Ek het begin swem nadat my kniëe nie meer wou saamwerk in die fiksheidsklasse nie en vandaar het die swemgogga my behoorlik gebyt,” sê Ted.
Hy vertel met trots: “Ek probeer tot vier keer ‘n week by die Moorddriftdam oefen en dan gaan stap Mart elke keer ‘n stewige 4 km.”
Mart is al van 1958 ‘n inwoner van Mokopane en is bekend in die gemeenskap vir haar bydrae tot die kerk en ouetehuis se sanggroep, die skemeruur, sy is ook ‘n talentvolle volkspeler en hulle albei geniet nog ‘n potjie rolbal.
Mart spog: “Hier is byna 200 medaljes wat Ted al oor die jare ingepalm het en meeste van hulle is goud.”
“Harde werk en die ondersteuning van my vrou is die geheim tot my sukses in die lewe asook in die ope waters,” sê Ted en glimlag van oor tot oor.



