Local NewsNews

Vryburgers reik ‘n hand na nasorgsentrum

'Dit is lekker om vir hulle iets te kan gee,' sê Vryburger Francois Theron

POLOKWANE – Ry jy in Dorpstraat af is daar ‘n huis aan die linkerkant met ‘n tuin waar voëltjies kan baljaar en mens vrede vir jou siel kan kry.

Op hierdie erf is ‘n huis waar daar 29 spesiale mense woon.

Die Polokwane Nasorgsentrum huisves nie net 19 permanente inwoners nie, maar ook 10 dagbesoekers wat die sentrum bywoon.

Die Polokwane Nasorgsentrum bestaan al vir 16 jaar, hulle help graag die inwoners wat verstandelik gestremd is, maar omdat hulle ‘n privaat instansie is ontvang hulle geen toelaes van die staat nie.

Saartjie du Toit is die hoof van hierdie nasorgsentrum, en strewe daarna om elke dag haar beste te gee en geniet elke oomblik daarvan.

“Die jongste van die kinders, soos wat ek hulle noem, is 22 jaar oud en die oudste 60. Party van hulle se IK is nog op popspeelvlak,” vertel Saartjie.

“Ons is dankbaar vir elke skenking wat ons kry, maar ons besef mens kan nie stil sit en wag dat ander mense vir ons skenkings gee nie. Ons spring soms self in en maak vetkoeke om te verkoop.”

Die Vryburgers Pietersburg het op Vrydag, 22 Mei ‘n finansiële skenking aan die Polokwane Nasorgsentrum oorhandig.

Hulle hou gereeld fondsinsamelings soos die groot jaarlikse wynveiling sodat hulle instansies soos die Polokwane Nasorgsentrum kan bystaan en ondersteun.

“Ons stap al ‘n lang pad met Saartjie-hulle. Dit is lekker om vir hulle iets te kan gee,” vertel Francois Theron, een van die Vryburgers wat Vrydag daar gekuier het.

Die ander Vryburgers wat teenwoordig was tydens die oorhandiging, was Adriaan van der Walt, Ruan Erasmus en Dawid van der Walt.

Sy vertel ook dat die nasorgsentrum graag ‘n tweedehandse voertuig wil aanskaf aangesien hulle bussie al ‘n geruime tyd moeilikheid gee.

Dan ook wil hulle ook die nasorgsentrum se perseel vergroot deur die buurhuis te koop aangesien die navraag verhoog het van mense wat sorg benodig.

“Die huis is ideaal met sy lang gang, vyf slaapkamers en drie badkamers.

“Ek neem die kinders soms op ‘n Sondag uit om te gaan roomys eet of ons gaan op klein uitstappies. Hierdie skenking beteken so baie. Ek voel so klein. As ‘n mens ‘n plek soos dié bestuur, besef jy hoe afhanklik jy is van die mense daar buite. Ons Vader weet wat ons nodig het.” sê Saartjie.

“Dankie is so ‘n klein woordjie. Ek weet nie hoe om ons dank uit te spreek nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button