Tekkie Tax-dag word met groot entoesiasme gevier
LEANDRI VAN SCHALKWYK Vrydag het werknemers en leerders van verskeie besighede en skole hul formele skoene verruil vir tekkies, maar slegs indien hulle met ‘n Tekkie Tax-plakker kon pronk. Tekkie Tax is ‘n geldinsamelingsprojek waar 16 nasionale sambreelwelsynsorganisasies kragte saamsnoer. Die projek word vanjaar ten bate van meer as 1 500 welsynsorganisasies regoor Suid-Afrika aangebied. …
LEANDRI VAN SCHALKWYK
Vrydag het werknemers en leerders van verskeie besighede en skole hul formele skoene verruil vir tekkies, maar slegs indien hulle met ‘n Tekkie Tax-plakker kon pronk.
Tekkie Tax is ‘n geldinsamelingsprojek waar 16 nasionale sambreelwelsynsorganisasies kragte saamsnoer.
Die projek word vanjaar ten bate van meer as 1 500 welsynsorganisasies regoor Suid-Afrika aangebied.
Die publiek kon plakkers teen slegs R10 elk aanskaf en die plakkers het vyf afdelings van dienslewering verteenwoordig. Afhangende van waar jou hart lê, kon elkeen kies om organisasies te ondersteun in een of meer van die diere-, familiedienste-, kinders-, dienslewering aan persone met gestremdheid- en basiese onderwysafdelings.
Kleurvolle skoenveters kon ook aangeskaf word om tekkies op te helder teen slegs R30 en T-hemde kon vir R110 gekoop word.
Hoofde, onderwysers en leerders van Capricorn High School en Laerskool Ivypark het met kleurvolle tekkies op beide skole se terreine spog.
By Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum het die kleuters die pret ‘n stappie verder geneem en hul klere verruil vir slaapklere en tekkies gedra om aan hierdie landwye veldtog deel te neem.
Werknemers van verskeie besighede in Polokwa-ne soos Leapfrog Polokwane, Bolivia Lodge, Chas Everett Polokwane en Henk Stander Radiologie het met hulle plakkers en tekkies hul dagtake aangepak.
Die Mall of the North se sekuriteit- en skoonmaakspan het ook met plakkers en smaakvolle tekkies gespog.
Plaaslike organiseerders sê dat die verkope van die plakkers goed was en dat hulle dankbaar vir die publiek se onder-steuning is.

George Mabata en Kagi Ledwaba, leerders van Capricorn High School, spog met hulle tekkies.







