POLOKWANE – Sowat 15 entrepreneurs het Vrydag tydens die Laerskool Pietersburg-Oos se kwartaallikse entrepreneursdag hulle ware uitgestal en verkoop.
Almal wat ‘lisensies’ gekoop het, kwalifiseer om hulle ware te verkoop en die doel agter die dag is om entrepreneurskap te bevorder en kinders te leer hoe om met geld te werk.
Punte word toegeken vir oorspronklikheid en natuurlik is dit ‘n pluspunt as die ware selfgemaak is.
Verskillende lekkernye, sjokolades, springmielies, kolwyntjies te kus en keur, serpe en musse, raaispeletjies om ‘n prys te wen, gekleurde bottels waarin water verkoop word, spookasem, pasteitjies, tuisgemaakte “goo” oftewel slym, yo-yo’s, koeldranke, roomhorinkies en kondensmelk, “rubik’s cubes” en vele meer was van die artikels te koop.
Amie Smit, ‘n onderwyser verbonde aan die skool, is in beheer van die projek en het punte toegeken vir verskillende aspekte, waaronder oorspronklikheid. Esmeralda Jacobs met haar “kom vang ‘n vis en wen ‘n prys” tafel het die dag se prys verower.
“Gewoonlik is daar sowat 30 entrepreneurs wat deelneem,” vertel hy.





