Suid-Afrika is 'n land met 'n groot diversiteit kulture woonagtig in die land. Van boere met jaggewere tot Zoeloes met luiperdvelle, enige iets is moontlik by 'n geleentheid waar verskillende kulture saamkom.
Danelle Buitendag en Hennie Beukes stel 'n boere-egpaar op die plaas.
POLOKWANE – Suid-Afrika is ‘n land met ‘n groot diversiteit kulture woonagtig in die land. Van boere met jaggewere tot Zoeloes met luiperdvelle, enige iets is moontlik by ‘n geleentheid waar verskillende kulture saamkom.
Dit was die geval toe Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se gr. R-groep ‘n Trots Suid-Afrika-dag gehou het op Vrydag, 12 Junie.
Die kinders het vroeg reeds hul ouers opgewonde wakker gemaak sodat hulle die dag kan begin.
Elke leerder het aangetrek soos iemand wat trots Suid-Afrikaans is. Daar was Voortrekkers en jagters, boere en boeremeisies, Zoeloes, Vendas en selfs ‘Patricia Lewis’ het ‘n draai gemaak.
Elke klas se ouers was ook verantwoordelik vir ‘n eg Suid-Afrikaanse gereg en boeresport.
Die leerders het gesmul aan pannekoek en koeksisters en gekyk hoe word wors gestop en biltong gemaak.
Hulle kon ook ervaar hoe dit voel om pap met die hand te eet.
Vir ontspanning kon hulle bokdrolletjies spoeg, sakresies hou en driebeen-hardloop waarna hulle kon afkoel met heerlike gemmerbier.
“Die tema vir die week was Trots Suid-Afrikaans en ons het die leerders geleentheid gegee om te wys waaroor hulle trots is,” vertel Marietjie Wilkinson, gr. R -juffrou.
Kristie Voges en Julius Engelbrecht is trotse Voortrekkers wat vertel dat hulle kaalvoet oor die Drakensberg getrek het.
Pap en sous is eg Suid-Afrikaans en hier wys Lariska Snyman en Jan Hendrik Boneschans hoe ‘n mens dit met jou vingers eet.
Ané Matthews vertel sy is trots daarop om ‘n Voortrekker te wees.
Leerders, ouers en onderwysers kyk hoe biltong gemaak word by die Trots Suid-Afrika dag van Oosskool se gr. R-groep.
Tweeling Megan en Kylie Brits, se pa leer hulle hoe om Sepedi te praat en te verstaan as deel van hul trots om Suid-Afrikaners te wees.
Emmereen Smit vertel sy is ‘n Voortrekker wat heerlik aan die vars gemmerbier drink.
“Ek is ‘n boeremeisie,” vertel Evelyn van Niekerk waar sy op die muurtjie sit by Oosskool.
Liam Nel eet die stywe pap met sy vingers soos net ‘n Suid-Afrikaner dit kan doen.