POLOKWANE – Om met kinders te werk sit nie in elke ou se broek nie, inteendeel, talle ouers meen diegene wat dié werk doen, is in die tuig gelê daarvoor.
Review het by die spesiale juffrouens by Suikerbekkie Kleuterskool gaan inloer en geleer ‘n besige kind is nie noodwendig ‘n stout kind nie.

Skoolhoof en juffrou Annelene Wagner meen elke kind moet as ‘n individu hanteer word, en dat die nodige aksie bepaal word volgens die situasie waarin die kind hom of haar bevind.
“Laat die kind ook die reëls verstaan sodat hulle weet wat hul verkeerd gedoen het, ‘n mens kan nie kinders straf as hulle nie die reëls verstaan nie,” sê juffrou Annelene.

Juffrou Salome Vercueil sê dat elke juffrou ken die kinders in haar klas goed, en dus is dit dan makliker om te bepaalde wanneer ‘n kind ‘n slegte dag beleef en dalk net ‘n ekstra drukkie nodig het.
“As ‘n kleuter hartseer is, sit ons hul gewoonlik op ons skote en troos en kalmeer hulle,” sê sy.

Huislike omstandighede moet altyd in ag geneem word, meen juffrou Rolien Nortjé. “‘n Kind is dalk net hartseer omdat sy pa in die Kaap is, en ‘n mens kan dus nie die gedrag as stoutwees identifiseer nie.”
As jy ‘n kind wel moet straf omdat hy of sy stout is moet jy voet by stuk hou, meen sy. “As jy vir hom sê jy gaan nie vir hom ‘n lekkerny gee as hy stout is nie, dan moet jy so maak,” sê juffrou Rolien.

Juffrou Sonja Janse van Vuuren gebruik die beloningstelsel: as ‘n kind soet is kry hy of sy ‘n plakker en word dus vir goeie gedrag beloon.

Juffrou Jackie van der Merwe gebruik die uitsittegniek om met bedrywige kleuters te werk. “Hulle kry tyd om in die hoek te sit en te dink oor wat hul gedoen het, en so leer hulle onderskei tussen aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag.”

Juffrou Lize van Dyk meen elke situasie moet reg identifiseer word voordat ‘n kind gestraf word, en ondervinding tel gewoonlik baie in so ‘n geval.
Suikerbekkie Kleuterskool leer meer oor Hemelvaartdag
Suikerbekkie kleuterskool sportdag




