POLOKWANE – Op Vrydag, 19 Junie, na ‘n week se harde werk en leer van vervoer en padreëls, het ‘n baie spesiale gas die kleuters van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum besoek.
Dit was niemand anders nie as Francois Lubbe van die verkeersdepartement, en Daantjie Kat. (video)
Sommer met die intrapslag moes Francois hoor van ‘n pappa wat oor ‘n stopstraat ry of ‘n mamma wat nie haar sitplekgordel aansit nie. Dit het hom aangespoor om dan ook sommer dadelik te begin vertel van veiligheid in die motor.
“Die eerste ding wat jy moet doen as jy in die motor is, is om jou sitplekgordel vas te maak. Daarna moet jy stilsit en nie met jou boetie of sussie baklei en dan jou pappa of mamma se aandag aftrek nie,” vertel hy terwyl die kleuters grootoog luister. Hy het ook aan hulle gewys wat die gevolge is van nie sitplekgordels vasmaak of stilsit nie.
“Jy gaan vlieg as jy jou nie vasmaak nie,” vertel hy verder. Daarna leer hy hulle ook dat hulle nie oor die pad moet hardloop nie, hulle moet altyd mamma en pappa se hande vashou. Hulle is ook geleer dat hulle ‘n stopteken en verkeerslig moet gehoorsaam.
Daantjie Kat het elke klas geleer hoe om veilig oor die pad te stap deur ‘n liedjie te sing.








