POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg (PHS) het weereens bewys dat hulle die baanbrekers is as dit kom by verandering in skole. ‘n Inisiatief van die skool om leerders se bykomstighede so aan te pas dat dit by die skooldrag pas het die aandag getrek van ander skole sowel as een van Suid-Afrika se bankreuse. Dit het alles begin omdat Willie Schoeman, PHS skoolhoof, nie ‘n groot liefde het vir ‘n dagboek nie.
“Ek hou nie van ‘n dagboek nie en dis veral vir my ‘n probleem wanneer personeel by my wil weet oor beskikbare datums vir iets soos ‘n toer of spesiale aand.
“Die rondblaai was nie vir my nie, en ek het besluit om dit heeltemal te verander,” vertel Schoeman. Deur die skool se huidige jaarbeplanner as riglyn te gebruik, het hy ‘n magnetiese bord laat maak. Leerders en personeel kan nou die bord besigtig in die kantoor en dan volgens hierdie inligting beplan.
Na die besoek van ‘n oud-leerder is die proses nog verder gevat. Met die gewildheid van armbande by die skool, is daar besluit om om ‘n armband-konsep by die skool aan te bring. Hierdie nuwe armband gaan die doel dien om leerders se individuele prestasies en buitemuurse belange meer vaartbelyn te maak deur dit als op hierdie nuwe armband ten toon te stel.
“Daar is besluit op groen blokkies op die bandjies met ‘n wit prentjie, byvoorbeeld ‘n krieketspeler vir iemad wat die sport beoefen, so is daar vir elk van die verskillende prestasies iets uitgeding,” vertel Schoeman. Vir uitsonderlike prestasies is daar ook blokkies met ‘n ander ontwerp, byvoorbeeld ‘n wit blokkie met ‘n groen prentjie vir ‘n eerstespan-speler.
Willie vertel dat die bandjies baie gewild is onder die leerders en selfs personeel. Hy het ook versoeke van verskeie skole ontvang wat ook van die bandjie-konsep wil gebruikmaak. FNB het ook versoek om van die bandjie-konsep gebruik te maak wanneer hulle personeel oplei om te onderskei watse opleiding hulle ondergaan.
Hierdie besluit moet nog finaliseer word en die bestuur van die bank was nie bereid om met Review te praat tot daar finale reëlings was nie.
In die proses om meer inligting op die bandjies te stoor, word daar ook oorweeg om ‘n mikroskyfie aan te bring wat leerders se persoonlike inligting sal op hê vir gevalle waar die leerder moontlik nie self hierdie inligting kan verskaf nie.
“Die bandjies is net nog een van die maniere waarop PHS wys dat ons leiding neem op alle vlakke,” het Schoeman gesê.





