POLOKWANE – Liefdadigheid en gemeenskapswerk is deesdae ál hoe meer in die kollig. Daar is soveel minderbevoorregte mense in hierdie land wat daagliks hulp nodig het.
Oosskool het besluit om uit te reik na die minderbevoorregtes deur hulle Mnr. en Mej. Oosskool-projek. Hierdie projek gee die leerders wat genomineer word vir Mnr. en Mej. Oosskool die geleentheid om ‘n verskil in iemand se lewe te maak.
Die projek gee leerders die kans om deernis en barmhartigheid te leer deur in aanraking te kom met mense wat minderbevoorreg is.
“Die leerders skryf in en dan word daar onderhoude gevoer. Daar word twee leerders uit elke graad vanaf gr. 3 ingeskryf. Hulle moet ‘n aanbieding doen en vertel wat hulle oor ‘n tydperk van ‘n paar maande vir die gemeenskap gedoen het,” vertel Michelle van der Westhuizen, organiseerder van die projek.
Elke paartjie het ‘n spesifieke plek of organisasie waarna hulle moet uitreik.
Die leerders gekies is as volg:
• Gr. 3, Constance Venter en Estienne Bresler wat na Aretha Tehuis uitreik.
• Gr. 4, Wian Haasbroek en Mishka Prinsloo wat na Ngwana Babahuis uitreik.
• Gr. 5, Tiaan Enslin en Wilmarétia Nell wat na Noddy’s Playground uitreik.
• Gr. 6, Benhard Cronje en Corina Stears wat na die Ivydale en Myngenoegen hawelose mense uitreik.
• Gr. 7, Ruan Lewis en Gerhard Maré wat na Martha Hofmeyer tehuis uitreik.
“Ons sien almal baie uit na die pad wat vir ons voorlê,” het Mishka Prinsloo vertel en gesê sy verwag om beslis by hierdie soort projek te baat.




