POLOKWANE – As mens vandag by Akademie Reformia se skoolgronde instap, sou jy nooit sê dat hierdie indrukwekkende skool met sy pragtuine en sportgronde ‘n paar jaar terug ‘n klein skooltjie was met slegs 32 leerders en ses leerkragte nie.
Akademie Reformia het in November 2014 vanaf die saal en kategeseklaskamers by die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Noord na ‘n groter perseel verskuif. Hier het die skool 11 klaskamers en sportgronde gekry om die drasties groeiende leerderbasis te akkommodeer.
Die skool beplan om teen einde 2015 ‘n verdere drie klaskamers aan te bring. Twee van die drie klaskamers is reeds voltooi en dien die doel van ‘n biblioteek en ‘n rekenaarklas, die derde klaskamer sal vir die gr. R-leerders ingerig word.
Daar word tans ‘n hek opgerig by die skool se ingang om ouers en leerders te verwelkom by hulle nuwe perseel.
Later van tyd gaan daar ‘n miniatuur dorpie gebou word en daar sal ‘n deel afgekamp word waar hulle hase, hoenders en ganse sal aanhou.
“Ons was so geskok toe ons sien dat party leerders nie eers weet hoe ‘n skaap lyk nie, ons besluit toe om die kamp te bou sodat die leerders ook die diere kan geniet,” sê Marietha Nel, die hoof by Akademie Reformia.
Verder beplan die skool om op Saterdag, 1 Augustus ‘n vriendskaplike hokkietoernooi te hou waar alle skole genooi word om die dag saam met hulle te geniet.
Daar sal ook op Saterdag, 29 Augustus ‘n markdag gehou word waar die gemeenskap welkom is om die leerkragte van die skool te ontmoet en meer te leer oor die skool.
“Eintlik is elke dag ‘n opedag, ouers is welkom om enige tyd te kom kyk na die skool,” sê Marietha, “ons is so geseënd om te sien dat die skool so baie gegroei het in net sewe maande, dit maak ons positief oor wat die toekoms vir ons inhou,” sê sy.





