Vegtertjie sterk goed tuis aan na haar hartoperasie
Na 'n maand in die Steve Biko Hospitaal is sy nou saam met haar ouers terug in Polokwane
POLOKWANE – Vroeër vanjaar het Review vertel van Charnique van Heese wat ‘n dringende hartoperasie moes ondergaan. Na ‘n maand in die Steve Biko Hospitaal is sy nou saam met haar ouers terug in Polokwane nadat die hartoperasie op 9 Julie suksesvol was. Tydens die operasie is haar hartklep toegemaak. “Charnique het almal verbaas met hoe spoedig sy herstel het,” vertel haar tannie, Marina van Rooyen.
“Sy het vinnig sterk geword en op haar eie asemgehaal. Op 15 Julie is sy uit die intensiewe sorgeenheid na ‘n gewone saal geskuif. Sy het goed begin eet en drink, die fisioterapeut en dokters was baie tevrede met haar vordering.”
Sy is Maandag ontslaan en na drie maande in die hospitaal is sy by die huis. Sy moet weer op 18 Augustus in Pretoria wees vir ‘n opvolg-ondersoek. Van Rooyen vertel die dokters het agtergekom dat daar ‘n gaatjie in haar hart is, maar hulle hoop dat dit vanself sal toegroei.
Hulle sal dit dophou.
“Ons wil net baie dankie sê vir almal se ondersteuning, gebede en vir die mense wat finansieel gehelp het. Ons waardeer dit ongelooflik baie en is so dankbaar vir al die wonderlike mense wat saam met ons dié pad gestap het. Daar lê nog ‘n lang herstelpad voor, maar ons het nou gesien sy is ‘n klein vegtertjie. Ons glo en vertrou dat sy spoedig weer 100% sal wees.”
Mini-gholf, ‘n leeuwelpie en hope pret vir Charnique
Klein Charnique kry moontlik binnekort ‘n hartoperasie by Steve Biko Hospitaal
Charnique het gemeenskap se hulp nodig




