POLOKWANE – Na die afloop van die vakansie en leerders weer terug by die skool, het Review met leerders van Laerskool Pietersburg gaan praat oor waarmee hulle hulself tydens die vakansie besig gehou het en wat hulle dink die stad moet doen of kry om leerders besig te hou tydens die vakansies.

Li-mei Wessels het vir haar ouma gaan kuier en saam met haar niggie gespeel.
“Ek dink die stad moet ‘n planetarium kry om kinders besig te hou en dinge te leer,” vertel sy.
Marco Janse van Rensburg het sy ma gehelp met huis skoonmaak en regpak. “Ek dink kinders moet klasse kan loop om te leer hoe om alles te kan doen wat hulle nie by die huis leer nie. Iets soos ‘n speelskool,” vertel hy.

Gert Smit het saam met sy oupa op die plaas gaan kettie skiet, hy vertel dat hy beter as sy pa kan kettie skiet.
“Ek hou baie van fietsry en wil graag ‘n fietsbaan in die stad sien waar kinders in die vakansie kan gaan ry,” vertel hy.
Saré Nel het by haar ouma in Lephalale en ook vir haar ander familielede gaan kuier.
“Ek dink kinders word slim as hulle blokkies bou, ek dink die stad moet ‘n Lego museum kry waar kinders kan sien hoe groot goed gebou word en self ook probeer bou.

Ian van der Merwe het vir die vakansie na die Pretoria dieretuin gegaan waar hy meer oor die verskillende diere geleer het. “My pa moet altyd ver ry as ons gaan vakansie hou, as die stad meer plekke kry vir mense om naby die huis te kan gaan vakansie hou, sal dit die skoolvakansies beter maak,” sê hy.
Tiané van Wyk vertel dat sy vir die vakansie gaan jag het en nie bang is om te jag nie, al is sy so jonk.
“Ons kort ekstra swem-baddens wat warm water het sodat ons kinders in die vakansie kan gaan swem, al is dit koud,” vertel sy.

Riska Brits het tydens die vakansie by haar ouma op die plaas gaan kuier.
Sy het gehelp koekies bak en haar oupa gehelp werk.
“Ek wil meer plekke sien in die stad waar kinders saam met hulle oupa en ouma kan dinge doen,” vertel sy.

Werner Swarts was vir die vakansie Durban toe waar hy lekker by die see kon wees en visvang.
“Ek wil altyd meer van alles leer en uitvind. As die stad labratoriums kan kry sal dit die kinders uit die moeilikheid hou, veral as daar dinge is wat kan ontplof,” vertel hy.

Aimee Wreyford het die vakansie saam met haar familie gaan deelneem aan ‘n uitreik na mense in nood en het gehelp om nuwe pype op die plaas in te sit.
“Ons kort ‘n klein Disney Land waar kinders kan gaan speel en meer leer van die kinderprente en karakters,” vertel sy.

Eduan Gobey het die vakansie by sy vriende gaan kuier en die hele tyd geoefen om fiks te bly.
“Ek dink die stad kort ‘n reservaat waar daar ook plek is vir kinders om te kan gaan speel in die waterpark tydens vakansies,” vertel hy.
Louise du Preez het vir die vakansie haar eerste rooibok geskiet en was op ‘n hokkietoer.
“Ek wil graag ‘n plek hê waar ons kan gaan speel, met diere en water en al die lekker goed soos die skou in vakansies,” vertel sy.
Marze Bekker het by haar vriende en haar oupa gaan kuier.
“Ons kort ‘n binneshuise valskermspringklub. Dit sal kinders baie besig hou tydens die vakansie,” vertel sy.

Vian en André Retters het tydens die vakansie na ‘n reservaat gegaan waar dit minus 11 grade was. Hulle was ook op die eerstespanhokkietoer. “Ons wil graag ‘n labratorium hier kry waar ons baie eksperimente kan doen. ‘n Groot tuimeltrein sal ook lekker wees sodat selfs die mense vanuit Amerika hiernatoe kan kom om te ry,” vertel hulle.
Louise en Lize van Reyneveldt het hulself besig gehou deur ander mense te help en net lekker dinge te doen waarvoor hulle nie tydens die skooltyd kans kry nie. “Ons wil graag iets soos Polokwane se eie Gold Reef City hê waar kinders in die vakansie gelos kan word om hulself moeg te speel,” vertel hulle.

Theunis Kruger het die vakansie rekenaarspeletjies gespeel. “Ek wens daar is ‘n groot saal waar kinders net kan speletjies speel in die stad,” vertel hy.




