POLOKWANE – Vyf lede van die Doornkraal Voortrekkers se Verkenners is vereer met die HW/PV toekenning. “Dit staan vir hoofleiers wag en president vekenners,” vertel Robey van der Merwe. Hy is in die Volstruisspan en is baie trots op die toekenning. Hy en Daniël Snyman, Trienie van den Berg, Robyn Hall en Michelle Badenhorst het van 10 tot 15 Julie ‘n kamp by Doornkloof naby Kroonstad bygewoon. “Dit was ‘n toetskamp en voortrekkers van regoor Suid-Afrika en Namibia het dit bygewoon,” vertel Trienie.
Daniël vertel dat hulle baie dinge tydens die kamp geleer het. “Ons het persoonlikheidstoeste gedoen en meer oor burgerskap en leierskap geleer. Aan die einde van verlede jaar moes ons elkeen ‘n volkstrots-taak maak oor ‘n rolmodel. In Mei het ons ‘n toets geskryf oor alles wat ons van die begin van voortrekker-wees af geleer het,” sê Daniël. Al vyf hierdie voortrekkers is gr. 12-leerders by Hoërskool Pietersburg (PHS).
Volgende jaar beplan hulle om elkeen in hul eie studierigting te gaan en dan ook aan te gaan met die voortrekkers. “Ons word dan ‘Staatmakers’ genoem. Ons kan steeds deel wees van die voortrekkers, maar ons is nie gebonde nie,” vertel Michelle.




