Winter regte tyd vir markte
Review het gaan gesels met inwoners wat gereed by hierdie stalletjies uitstal
POLOKWANE – Vooimark, kunsmark, boeremark, basaar, noem maar op en wees verseker dat jy op enige gegewe Saterdag een van hulle sal kan besoek in die stad.
Hetsy dit jou kerk se basaar is, of die ouetehuis se kermis, dit maar op jou naweekbeplanning wees om tussen stalletjies te snuffel.
Review het gaan gesels met inwoners wat gereed by hierdie stalletjies uitstal.

Marthi Rossouw het ‘n spookasemstalletjie wat ook sandkuns vir kinders verkoop. “Ek besoek gewoonlik heel eerste ‘n stalletjie waar ek goed vir my kinders kan koop. Ek is lief daarvoor om vir hulle boeke te koop en ek bederf eerder my kinders as om ornamente te koop. Ek stal uit by die Kunsmark by Pietersburg Laerskool en die sandkuns is beslis ‘n treffer,” sê Marthi.
Sy voel dat somer maande beter is om ‘n kuns- of vlooimark te hou, veral kort voor Kersfees.

Margie en Hennie Herbst verkoop klere regoor die land by verskillende feeste en basaars. Hulle vertel dat hulle na baie plekke toe gaan en dat daar nie regtig ‘n beste tyd van die jaar is om so ‘n basaar te hou nie.
“Ons besoek enige stalletjie waar die eienaar self in die stalletjie werk. As jy instap en daar is vriendelike diens en die stalletjie is aantreklik, dan spandeer ons gewoonlik baie geld daar. ‘n Mens moet kontak hê met jou kliënte,” vertel Margie.

Ina Duvenhage verkoop parfuum en vertel dat sy gewoonlik die stalletjies met die mooi en lekkerruik goed eerste besoek. “Ek koop gewoontlik net kos by ‘n vlooimark of goed wat ‘n mens kan gebruik. By my is die White Diamond, Beautiful en Hugo Boss die beste verkopers,” sê Ina. Sy vertel dat sy dink dat die winter ‘n beter seisoen is vir vlooi- en kunsmarkte, aangesien dit dikwels reën in die somer.

Rina de Beer en Amanda Weideman verkoop saam juwele, maar vertel dat hulle verskillende stalletjies besoek. “Rina besoek gewoonlik die kosstalletjies eerste terwyl ek van die stalletjies met al die blink goed hou. Dit trek my soos ‘n kraai en ek koop ook gewoonlik hierdie produkte,” vertel Amanda.
Rina sê sy dink dat die einde van die maand die beste tyd is om ‘n vlooimark te hou.

Carlos Berenguer besoek die kosstalletjies eerste, maar koop gewoonlik aandenkings wat hy vir sy vrou of vriende kan gee. “Somer is definitief die beste seisoen vir ‘n vlooimark,” sê Carlos.

Jacques Duvenhage verkoop heerlike souse en vrugtesappe en besoek ook die kosstalletjies eerste. “Ek is lief vir soetgoed en koop dit gewoonlik. My top verkoper is die groenrissie atjar. Ek dink dat hoe nader aan Kersfees dit is, hoe beter is die vlooimark, want mense koop dan geskenke,” sê Jacques.




