Die sirkus besoek Oosskool
Laerskool Pietersburg-Oos se terrein is verlede week gekenmerk deur aande gevul met kleur en klank, musiek en dans. ‘n Karnavalatmosfeer met vlaggies en ligte het in die binnehof geheers waar pizza’s en springmielies, spookasem en kolwyntjies van alle kleure en geure verkoop is tydens die skool se revue. ‘Sirkus alá Ooskool’ was ‘n musikale mallemeule …
Laerskool Pietersburg-Oos se terrein is verlede week gekenmerk deur aande gevul met kleur en klank, musiek en dans.
‘n Karnavalatmosfeer met vlaggies en ligte het in die binnehof geheers waar pizza’s en springmielies, spookasem en kolwyntjies van alle kleure en geure verkoop is tydens die skool se revue.
‘Sirkus alá Ooskool’ was ‘n musikale mallemeule waaraan elke graad 4- tot 7-leerder deelgeneem het; of dit nou was om te help met klank en rekwisiete of te sing en dans.
Sirkusmeesters, narre, akrobate en natuurlik diere was deel van die skouspel. Die kleurvolle kostuums en gedisiplineerde en seepgladde verloop van die aanbiedinge deur elke graad, het elkeen van die vier vertonings te gou laat verbyvlieg.
Leerders se entoesiastiese deelname het van die openingstoneel met hansworse tot die laaste liedjie groot applous ontlok.
Die narre het die gehoor by die optrede betrek deur tussen die gehoor te beweeg en streke uit te haal. Sirkusmeesters, Wanel Oberholzer en Cameron Dunkley het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt en die asemrowende akrobatiese toertjies van leerders het asems weggeslaan.
NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com








