POLOKWANE – Die 2016-meisiesleerlingraad van Curro Heuwelkruin het besluit om hierdie jaar ‘n henne-dinee van ‘n ander aard aan te bied met die tema Survivor.
Die saal is van vroeg reeds reggemaak en elke gas is versoek om ‘n kombers saam te bring vir die oorlewingstog.
Soos op die gelyknamige televisieprogram moes die gaste, wie natuurlik die ander Kruinies was, snaakse goed soos wurms eet en hulle monde in ‘n bak wurms indruk en ‘n slang uithaal.
Na al die grillerige speletjies verby was, het die oorlewendes pizza gekry om te geniet en was die gasspreker en oud-Kruinie, Lize-Mari Boje, aan die beurt met die volgende oorlewingswenke:
• wees jouself en glo in jouself;
• aanvaar jouself;
• waardeer jouself;
• vergewe en vergeet;
• spreek mooi dinge uit oor jouself;
• vertrou jouself;
• kry ‘n fokuspunt in jou lewe; en
• wees lief vir jouself.
Met hierdie wenke het die meisies hulle uitdagings en probleme op ‘n papier geskryf. Dié papier het hulle toe in ‘n vuur verbrand om sodoende hulself daarvan los te maak. Die aandpret het aangegaan met die braai van malvalekkers en vreugdevolle danse.
“Hierdie is ‘n jaarlikse tradisie wat ons gebruik om mekaar beter te leer ken en gees te bou,” vertel Bianca Jardim.








