POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg (PHS)-leerder, Jean Pierre Viljoen, het die skool se naam hoog gehou met sy prestasie tydens die provinsiale prysuitdeling van die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade.
Op Maandag 19 Oktober het die provinsiale prysuitdeling van die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade plaasgevind by die Hoërskool Ben Vorster.
Verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Wiskundefederasie (SAMF) en Liberty Life, een van die borge, het die pryse oorhandig.
Altesaam 85 000 leerders van 51 skole het landswyd aan die eerste ronde van die olimpiade deelgeneem. Sowat 60 000 leerders het gekwalifiseer vir die tweede ronde en slegs 207 leerders het vir die derde ronde gekwalifiseer.
Jean Pierre het die algehele tweede plek gekry in die junior afdeling waar gr. 8 en gr. 9-leerders deelgeneem het.
Prof. Johann Engelbrecht, uitvoerende direkteur van die SAMF, het leerders aagemoedig om deel te neem aan die olimpiade.
“Die olimpiade identifiseer nie net wiskundige vermoë nie, dit is ook die ideale manier om ‘n leerder voor te berei vir tersiêre onderwys.
“Slegs ‘n paar sal nasionale of provinsiale medaljewenners wees, maar duisende ander sal voordeel trek uit die ervaring van deelname aan die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade,” het Engelbrecht gesê.
Jean Pierre vertel dat wiskunde vir hom iets is wat nog nooit moeilik was nie, en hy skryf dit toe aan die feit dat hy van kleintyd reeds af saam met sy ma gaan werk het en met wiskunde te doen gekry het.
“Ek hou van wiskunde en dit maak dit net nog makliker vir my. Al raad wat ek aan leerders kan gee is om wiskundeklasse te loop en om in die klas op te let en te vra as jy nie verstaan nie,” het Jean Pierre vertel.




