Vrou se dood tydens wittebrood skok stad
Die gedenkdiens vir Elrien van Wyk wat tydens haar wittebrood skielik siek geword het en kort daarna oorlede is, sal na verwagting vanoggend (Donderdag) vanuit die Huis van Bedieninge in Uitspanrylaan plaasvind. Elrien is Saterdag in ‘n hospitaal in Bethlehem oorlede, twee weke na haar troue met Pieter van Wyk. Sy is ‘n week na …
Die gedenkdiens vir Elrien van Wyk wat tydens haar wittebrood skielik siek geword het en kort daarna oorlede is, sal na verwagting vanoggend (Donderdag) vanuit die Huis van Bedieninge in Uitspanrylaan plaasvind.
Elrien is Saterdag in ‘n hospitaal in Bethlehem oorlede, twee weke na haar troue met Pieter van Wyk. Sy is ‘n week na hul troue met pankreatitis gediagnoseer en in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal opgeneem.
Nettie van Wyk, Pieter se ma, sê haar seun is platgeslaan. Elrien het siek geword tydens hul wittebrood by Clarens in die Vrystaat. Sy het begin herstel, maar ‘n terugslag beleef en is uiteindelik in die hospitaal opgeneem.
Die egpaar het mekaar op 14 Februarie ontmoet en is nege maande later, op 14 November getroud.
“Sy was ‘n lieflike mens, ‘n engel, ‘n pêrel. Ek glo nie ‘n skoonma kan so lief word vir haar skoondogter soos wat ek vir haar geword het in die nege maande wat ek haar geken het nie,” vertel Nettie.
Elrien het 11 jaar lank by Data Inn gewerk, en haar kollegas is verslae oor haar skielike dood. Sy word beskryf as ‘n stil mens wat hulpvaardig en lankmoedig, geduldig en liefdevol was.
Elrien laat haar man Pieter, ouers, skoonouers en twee susters agter.
Storie: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com
Foto: Elrien en Pieter van Wyk.



