Local NewsNews

Ds. Tjaart al 30 jaar ‘aan diens’

Review het die geleentheid gehad om met dié merkwaardige man en sy vrou, Ilze, te gesels oor sy roeping as predikant en hulle lewe.

POLOKWANE – Om 30 jaar in die bediening te wees is iets waaroor enigiemand baie trots kan wees, dít is die geval van ds. Tjaart Meyer, die predikant van die N.G. Kerk Pietersburg-Oos gemeente.

Review het die geleentheid gehad om met dié merkwaardige man en sy vrou, Ilze, te gesels oor sy roeping as predikant en hulle lewe.

“Ek en Ilze is 35 jaar gelede getroud en die N.G. Kerk Pietersburg-Oos is ons eerste gemeente. Dit is wonderlik om so lank al deel te wees van die gemeente wat volgende jaar hul 50ste bestaansjaar vier,” vertel Tjaart.

Ilze straal van trots terwyl sy vertel dat Tjaart ‘n baie fyn aanvoeling vir mense en hulle emosies het.

“Hy word gereeld gevra om troues te behartig, kinders te doop of om geliefdes te begrawe. Hy is ‘n regte mense-mens en dit kom duidelik in sy persoonlikheid deur.”

Tjaart is die afgelope vyf jaar die enigste predikant van die gemeente alhoewel hy steeds baie gebruik maak van ander predikante se hulp. Die gemeente is baie ingestel op verhoudings en hou gereeld huwelikseminare waar mense kan leer hoe om die beste uit hulle verhoudings te put.

Op die vraag of hy altyd ‘n predikant wou word lag hy en sê nee. “My ma het altyd gesê een van haar kinders moet ‘n predikant word,” skerts hy. “Ek wou aanvanklik ingenieurswese studeer, maar in my gr. 11-jaar het ek die roeping gevoel om ‘n predikant te word. In die eerste vier jaar van die bediening het ek baie gewonder of ek die regte besluit geneem het. Ek het sielkunde begin studeer asook ‘n narratieweterapeutkursus en ‘n mediasiekursus voltooi.”

Tjaart vertel dat verhoudings vir hom vreeslik belangrik is en dat hy graag wil sien dat daar goeie verhoudings tussen mense is. Hy vertel dat die mediasiekursus wat hy voltooi het hom help om paartjies vir wie daar geen ander uitweg is as om te skei nie, se paaie in vrede skei, veral as daar kinders betrokke is.

“Ilze is baie lief vir kinders en hier is gedurig kinders in ons huis vir wie sy berading bied. Saam maak ons ‘n formidabele span.”

Tjaart vertel dat hy daarvan hou om almal met wie hy in kontak kom gelukkig te maak, ongelukkig veroorsaak dit ‘n situasie waar hy altyd “aan diens” is en gevolglik sukkel hy om te ontspan.

“Ek is baie gelukkig, die gemeente respekteer my tyd en pla nie as dit nie regtig nodig is nie. Ek stel altyd ander se belange bo my eie en soms kom ek baie naby aan geestelike uitputting, oftewel ‘uitbrand’. Die gemeente is soos my eie familie, ek wil elke Paasfees en Kersfees saam met hulle spandeer. Ek is onbeskryflik lief vir my gemeente en ek weet hulle is net so lief vir my.”

Die paartjie beplan om na hul aftrede in 2022 steeds in Polokwane aan te bly tussen die mense wie deur die jare soos hulle eie familie geword het.

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button