Brandstofkrisis kan oorspoel na Limpopo
Die staking van lede van die Chemical Energy Paper Printing Wood and Allied Workers Union (Ceppwawu) wat reeds ‘n negatiewe uitwerking veral op brandstofvlakke in Gauteng het, kan dieselfde nagevolge plaaslik veroorsaak indien vulstasies se voorraad opraak. “Nie net is die staking een van die grootste faktore nie, maar ook die aansienlike daling in die …

Die staking van lede van die Chemical Energy Paper Printing Wood and Allied Workers Union (Ceppwawu) wat reeds ‘n negatiewe uitwerking veral op brandstofvlakke in Gauteng het, kan dieselfde nagevolge plaaslik veroorsaak indien vulstasies se voorraad opraak.
“Nie net is die staking een van die grootste faktore nie, maar ook die aansienlike daling in die brandstofprys van Dinsdagaand. Die skielike toestroming van motoriste na vulstasies gister (Woensdag) gaan veroorsaak dat sekere produkte uit voorraad kan raak,” sê eienaar van Sasol Bendor, Johan Potgieter.
Hy sê sommige vragmotors wat vir Polokwane bestem is, is reeds in Gauteng deur stakende werkers voorgekeer en die normale hoeveelheid voorraad word nie plaaslik afgelewer nie. Sommige motoriste het sedert die naweek uit paniek hul motors en ekstra houers volgemaak wat ook volgens Potgieter die beskikbare voorraad ‘n knou gegee het.
“As die staking nie vinnig opgeskort word nie, gaan ons definitief ‘n tekort aan brandstof in Polokwane ervaar. Ons is nog gelukkig om redelik genoeg voorraad te hê, maar die situasie kan teen die naweek verander,” sê hy.
Ongeveer 15 000 Ceppwawu-lede staak sedert verlede week oor ‘n 9% salarisverhoging terwyl werkgewers slegs 7% aanbied. Petroljoggies is op hul poste, maar raffinaderye en depots word geraak.
Nasionale woordvoerder van Ceppwawu, Clement Chitja was teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: Verskaf
Hooffoto: ‘n Kliënt van ‘n plaaslike vulstasie het verlede week reeds ‘n ekstra houer met diesel gevul om te verseker dat sy besigheidsvoertuie voldoende brandstof tydens die Ceppwawu-staking het.



