Polisiedeurbraak met verskeie gesteelde items
Sewe verdagtes sou na verwagting Maandag in die hof op aanklagte van besit van gesteelde goedere en die oortreding van die migrasiewet verskyn het nadat hulle die naweek onderskeidelik in Westenburg en Burgersfort vasgetrek is. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die polisie se intelligensie-eenheid het ‘n 38-jarige Zimbabwiër Vrydag in Wes- tenburg aangekeer nadat inligting …

Sewe verdagtes sou na verwagting Maandag in die hof op aanklagte van besit van gesteelde goedere en die oortreding van die migrasiewet verskyn het nadat hulle die naweek onderskeidelik in Westenburg en Burgersfort vasgetrek is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die polisie se intelligensie-eenheid het ‘n 38-jarige Zimbabwiër Vrydag in Wes- tenburg aangekeer nadat inligting ontvang is. “Gemeenskapslede het beweer dat die man glo gesteelde goedere op ‘n weeklikse basis na Zimbabwe vervoer. Die polisie het die verdagte wat glo onwettig in die land is opgespoor en op vier televisies ter waarde van R26 500 beslag gelê wat reeds in plasties toegedraai was om vermoedelik vervoer te word,” sê Ngoepe.

R500 000 wat in Burgersfort gevind is.
“Die polisie wil graag die gemeenskap bedank vir waardevolle inligting wat gereeld deurgegee word en tot suksesvolle arrestasies lei. Die verdagtes kan moontlik met nog sake van inbraak of diefstal verbind word,” sê Ngoepe. In ‘n tweede voorval het die Burgersfort polisie se misdaadintelligensie-, sigbare polisiëringseenheid en speurtak ses Malawiese burgers in Mareseleng-nedersetting op aanklagte van besit van gesteelde goedere gearresteer.
“Die verdagtes is tussen 24 en 38 jaar oud en wettig in die land, maar hulle kon geen geldige dokumentasie vir ‘n verskeidenheid items in hul huis verskaf nie. Die polisie het op 13 selfone, ses televisies, 19 fietse, sewe DVD-spelers, 15 luidsprekers, agt batterye wat vir netwerktorings gebruik word, twee kragopwekkers, vier klankversterkers, twee koordlose Telkom-telefone en twee omsetters ter waarde van R500 000 beslag gelê,” sê Ngoepe.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: ‘n Bakkievrag van 19 vermoedelik gesteelde fietse is tydens ‘n polisie-operasie gekonfiskeer.



