Tweede verdagte vas na versinde ontvoering
Die Valke het ‘n tweede verdagte, Leon du Preez in verband met die onlangse ontvoeringsaak van Berdine Jordaan in Musina gearresteer en hy het reeds verlede Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn. Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke sê hy is op aanklagte van ontvoering en regsverydeling gearresteer en is R2 000 borgtog toegestaan. Du Preez en …

Die Valke het ‘n tweede verdagte, Leon du Preez in verband met die onlangse ontvoeringsaak van Berdine Jordaan in Musina gearresteer en hy het reeds verlede Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn.
Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke sê hy is op aanklagte van ontvoering en regsverydeling gearresteer en is R2 000 borgtog toegestaan. Du Preez en Jordaan sal in September saam in die hof verskyn.
Jordaan is onlangs kwansuis saam met haar vyfjarige dogter en 14-jarige susterskind in Ladanna ontvoer, maar is later in ‘n huis in Musina gevind.
Sy staan tereg op aanklagte van regsverydeling, ontvoering van die tiener en dwarsboming van die gereg nadat sy dieselfde dag nog gearresteer is.
“Die ondersoek het daarop gedui dat sy die hele drama versin het en na bewering self vir die opgemaakte drama verantwoordelik was,” het Maluleke gesê.
Jordaan se voertuig is in die parkeerarea van dokterspreekkamers in Doornkraalstraat gevind waarna die ondersoek die Valke uiteindelik na ‘n huis in Musina gelei het waar hulle die drie in ‘n hangkas gevind het waar hul glo weggekruip het. Nadat hulle gevind is, is Jordaan ondervra en die polisie het besef dat die ‘ontvoeringsage’ nie water dra nie en dat Jordaan self waarskynlik agter alles sit en saam met Du Preez gesweer het. Die motief agter die hele episode bly steeds ‘n raaisel.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Berdine Jordaan, die jong vrou wat onlangs gearresteer is na ‘n beweerde ontvoering. (Foto: Internet)



