Local NewsNews

Duister toekoms vir Aretha se bejaardes, gestremdes

Meer as 20 bejaarde en gestremde inwoners van Aretha Tehuis kan moontlik ‘n donker Kerstyd ingaan nadat huiseienaar Johan Vorster die munisipale rekening weens wanbetaling moes sluit en inwoners sedert Maandagmiddag tot gisteroggend (Woensdag) sonder water en elektrisiteit moet klaarkom. Lede van die gemeenskap en nuwe bestuurskomitee ry van Maandag water aan om die gesondheidsrisiko …

Meer as 20 bejaarde en gestremde inwoners van Aretha Tehuis kan moontlik ‘n donker Kerstyd ingaan nadat huiseienaar Johan Vorster die munisipale rekening weens wanbetaling moes sluit en inwoners sedert Maandagmiddag tot gisteroggend (Woensdag) sonder water en elektrisiteit moet klaarkom.
Lede van die gemeenskap en nuwe bestuurskomitee ry van Maandag water aan om die gesondheidsrisiko van toilette wat nie kan spoel nie, te verminder. Die bederfbare kos in die yskaste is besig om sleg te word, die vleis in die vrieskaste ontdooi en daar sal van die inhoud ontslae geraak moet word.
“Ek het geweet my naam gaan swart gesmeer word en voel bitter jammer vir die inwoners, maar ek het geen ander keuse gehad nie. Ek word vir die rekening verantwoordelik gehou en kan ook nie die agterstallige bedrag bekostig nie,” sê Vorster.
Hy sê hy het die bestuur lank voor die vorige huisbestuurder, Ina Koen, se dood in Augustus ingelig dat die huis in die mark is. “Ongeveer ‘n maand gelede het ek vir die nuwe komitee, wat pas verkies is, gesê dat ek ‘n koper het en dat hulle die agterstallige rekening van sowat R18 000 dringend moet betaal. Die koop is hangende as gevolg van die uitstaande rekening en ek het boonop ‘n rekening van R41 000 vir die uitklaringsertifikaat ontvang. Ek kan nie toelaat dat die rekening oploop en niemand probeer om dit te vereffen nie.”
Hy beweer dat bestuurslede telkens wanneer hy in die verlede gedreig het om die dienste af te sny na die munisipale kantore is om reëlings te tref ter vereffening van die rekening, maar dit is glo nooit nagekom nie.
Bestuurskomitee-sekretaris, Lizelle Bezuidenhout, sê elke inwoner betaal tussen R1 200 en R1 500 per maand. “Uit dié inkomste moet daar vir die 21 inwoners kruideniersware gekoop word, die huur van R8 800, asook die brood- en melkrekening en ander uitgawes moet betaal word. Die afgelope twee maande het die tehuis geen kontantdonasies ontvang nie alhoewel die komitee op sosiale netwerke vir donasies gevra het. Ons kan nie meer al die gate toestop nie.”
Volgens Bezuidenhout bestaan die tehuis al 14 jaar, maar niemand het nog die instansie as ‘n niewinsgewende organisasie geregistreer nie. Ons is nou daarmee besig en het ook ‘n bankrekening in Aretha Tehuis se naam geopen. “Ons het nooit gesê ons sal nie die rekening betaal nie, maar ons het nie geld om dit te doen nie.”
Sy sê die nuwe komitee wil nie verantwoordelik gehou word vir die ou skuld nie, maar is bereid om vir die nuwe uitgawes pa te staan. “Tans bid ons vir ‘n ander huis waarheen inwoners verskuif kan word want ons weet nie wat die nuwe eienaar se planne is nie. Ons kan nie sit en toekyk hoe inwo­ners nou sonder krag en water moet aansukkel nie.”
Teen druktyd gister (Woensdag) het Bezuidenhout laat weet die watertoevoer is net na 09:00 herstel, maar op stadige vloei oopgedraai. “Ons het ook met ‘n eiendomsagent geskakel om die nuwe eienaar te kontak en te probeer vasstel hoe lank ons het om ander blyplek te soek.”
Aretha Tehuis se bankbesonderhede is First National Bank, tjekrekening – 62657276880, takkode – 260226.
Vir meer inligting kan Bezuidenhout by 079 326 2909 geskakel word.

Strorie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Aretha Tehuis se water en elektri­si­teit is Maandagmiddag afgesny, maar die watertoevoer is gisteroggend (Woensdag) weer op stadige vloei oopgedraai.

‘n Vooraansig van Aretha Tehuis waar bejaarde en gestemde inwoners tans sonder elektrisiteit is en die watertoevoer slegs gedeeltelik oopgedraai is.
‘n Vooraansig van Aretha Tehuis waar bejaarde en gestemde inwoners tans sonder elektrisiteit is en die watertoevoer slegs gedeeltelik oopgedraai is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button