Poging tot roof by dierekliniek
Personeel van Wolkberg Dierekliniek is erg ontsteld nadat twee rowers, waarvan een gewapen was, hul vroeër vanmiddag (Donderdag) probeer beroof het. Ontvangsdame, Irene Duvenhage sê twee skurke het omstreeks 14:07 by die kliniek ingestap. “Een van hulle het ‘n pistool uitgehaal en op ons gerig. Die ander een het by die deur gestaan en waggehou. …

Personeel van Wolkberg Dierekliniek is erg ontsteld nadat twee rowers, waarvan een gewapen was, hul vroeër vanmiddag (Donderdag) probeer beroof het.
Ontvangsdame, Irene Duvenhage sê twee skurke het omstreeks 14:07 by die kliniek ingestap. “Een van hulle het ‘n pistool uitgehaal en op ons gerig.
Die ander een het by die deur gestaan en waggehou. Die gewapende man het konstant die wapen op personeel in die ontvangsarea gerig gehou en gesê, ‘shhh ek skiet julle’,” sê Duvenhage.
Veearts Xander de Kock het gehoor iets is verkeerd en toe hy by die ontvangarea instap, het die man die wapen op hom gerig. “De Kock het net sy hande in die lug gesteek en ek het die kans gevat om onder die toonbank in te glip en die noodknoppie te druk. Ek het gehoor hoe die skurk die sneller twee keer trek, maar die skoot het nie afgegaan nie. Toe die alarm begin skreeu, het beide rowers vir enkele sekondes nog rondgestaan waarna hulle
laat spaander het,” sê Duvenhage.
Sy sê sy sal die gewapende man kan herken omdat hulle nie klapmusse aangehad het nie.
Niemand is beseer nie en die twee aanvallers kon niks buit nie. Die saak was teen die tyd van publikasie nog nie by die polisie aangemeld nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



