Dankbaar vir hulp, maar eise steeds enorm
“Jy kan jou nag- en dagrome aansmeer, maar ouderdom gaan jou bekruip of selfs na jou toe aangehardloop kom as hy jou nog nie beetgekry het nie. Daarom moet ons meer as ooit tevore hande vat om ‘n beter lewe vir ons senior burgers te bou.” Met dié werklikheid het Dawie Lee, bestuurder van Martha …

“Jy kan jou nag- en dagrome aansmeer, maar ouderdom gaan jou bekruip of selfs na jou toe aangehardloop kom as hy jou nog nie beetgekry het nie. Daarom moet ons meer as ooit tevore hande vat om ‘n beter lewe vir ons senior burgers te bou.”
Met dié werklikheid het Dawie Lee, bestuurder van Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes en Vergeet My Nie Behuisingsentrum Saterdag borge, vrywilligers, skenkers, diensbestuurslede en Stokkiesdraaikomiteelede verwelkom en bedank vir hul onbaatsugtige hulp aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se werksaamhede.
Lee het die nood onder bejaardesorg onderstreep en gesê meer ouetehuise sluit hul deure, maar die probleme en mediese uitdagings raak net groter met sowat 4,5 miljoen Suid-Afrikaners wat ouer as 60 is.
“In die hele Limpopo het die SAVF slegs Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes wat oor verswakte bejaardesorg beskik. Die departement van gesondheid het die krane toegedraai en het nie medikasie of doeke vir volwassenes nie en ons het 25 inwoners wat permanent doeke gebruik. Ons moet as ‘n kliniek registreer om volwasse doeke te kry, maar niemand kan presies vir ons sê waar ons moet registreer nie. Tot 14 oproepe word soms per dag gemaak om uitklaring oor die registrasieproses te kry, maar die enigste antwoord is dat dit op nasionale vlak gedoen moet word en wel aandag kry.”
Lee sê hul kry nie nie eers pynmedikasie van die departement nie, dit moet glo deur ‘n dokter voorgeskryf word.
“Dit kos ons R6 600 per maand om ‘n verswakte bejaarde te versorg. Van die inwoners kry slegs ‘n maandelikse staatspensioen van R1 510, onder 75 jaar, of R1 530, bo 75 jaar wat dikwels hul enigste inkomste is. Ons kan eenvoudig nie bejaardes wegwys wat in haglike omstandighede onversorg is en niks vir hulself kan doen en sonder familie is .”
Lee sê dat hul wel dankbaar is vir die subsidie wat hul kry en die hulp van die gemeenskap en het opnuut ‘n beroep op donateurs en rolspelers gedoen om meer as ooit tevore hande te vat om ‘n beter lewe vir senior burgers te bou sodat hul menswaardig kan bly.
Storie en foto’s: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com




