Ingrypende stappe kom om Limpopo se grootwild te beskerm
Die onheilspellende toename in die stroping van grootwild in Limpopo is onrusbarend en drastiese planne om die slagting hok te slaan, is tans op die besprekingstafel. Limpopo toon sedert verlede jaar ‘n skerp styging in voorvalle waar krokodille, leeus en renosters afgemaai word. “Die renosterkwessie is al vir jare ‘n groot probleem, maar die aanval …

Die onheilspellende toename in die stroping van grootwild in Limpopo is onrusbarend en drastiese planne om die slagting hok te slaan, is tans op die besprekingstafel.
Limpopo toon sedert verlede jaar ‘n skerp styging in voorvalle waar krokodille, leeus en renosters afgemaai word. “Die renosterkwessie is al vir jare ‘n groot probleem, maar die aanval op krokodille en veral leeus is besig om handuit te ruk en ingrypende stappe sal gedoen moet word,” sê Transvaalse Landbou-unie Noordstreek-streekbestuurder, Drickus Botha, wat na verwagting gister (Woensdag) saam met lede van wildbeskermingsorganisasies sou vergader om veiligheidsmaatreëls en bewaringsplanne te bespreek.
“Ons het tydens ‘n onlangse vergadering van die Limpopo Wild- en Veediefstalforum tot die gevolgtrekking gekom dat leeus, veral wit leeus toenemend vir medisinale doeleindes doodgemaak word. In meeste gevalle word net die pote verwyder, maar in ander gevalle ook die kop,” sê Botha.
Boere en telers spandeer tans miljoene rand om leeus te beveilig en stap nou dieselfde paadjie as renosterboere wat ten duurste moet opdok om gewapende wagte aan te stel.
Beskikbaarheid van gif
“Temik, ook bekend as two-step, is onwettig in Suid-Afrika maar kan vrylik op straat by smokkelaars en selfs pensioenbetaalpunte op die grens met Zimbabwe gekoop word om leeus te vergiftig,” sê Botha.
Gifkenner van Griffon Poison Information Centre, Gerhard Verdoorn het bevestig dat Temik vanaf Zimbabwe en Mosambiek ingesmokkel word en dat ou voorraad nog op plase beskikbaar is. Volgens hom is die hele bedryf ‘n fiasko. “Telers het die mark geskep en nou sit hulle met die probleme. Ongelukkig is die onwettige mark sterker as die wettige een en leeus in aanhouding is maklike teikens.”
Nuutste voorvalle
Die nuutste voorval waar drie leeus met besmette hoender vergiftig en een se kop en pote afgesny is, is Dinsdag by die Alldays polisiestasie aangemeld.
“Drie leeus is vermoedelik Maandagaand by die Ingogo Safari Game Lodge vergiftig. Een van die leeus se kop en pote is afgesny en dit lyk of hulle die vel ook wou verwyder. ‘n Veearts is na die toneel ontbied om die ander twee leeus wat oorleef het, te behandel,” sê provinsiale polisiekommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo.
Die polisie ondersoek ook ‘n saak waar drie leeus verlede Donderdag ongeveer 20 km buite Polokwane doodgemaak is. Twee mannetjies se koppe en pote is verwyder. ‘n Derde leeu, ‘n wyfie, is ook doodgemaak, maar nie geskend nie.
Verlede jaar is ongeveer 13 leeus in Limpopo afgemaai en nege tot dusver in Januarie vanjaar.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com




