Oom Noel vlieg nou altyd saam
Noel Booysen, jarelange lid van die Capricorn Modelvliegtuigklub is voorverlede Vrydag skielik aan ‘n hartaanval by sy huis dood
POLOKWANE – Noel Booysen, jarelange lid van die Capricorn Modelvliegtuigklub se as is Saterdagmiddag in ‘n roerende gebaar deur klublede van die vliegklub vanuit ‘n modelvliegtuig oor die klub se gronde gestrooi.
‘n Formasie-verbyvlug met modelvliegtuie is daarna gedoen, waar een vliegtuig die formasie verlaat en wegbeweeg het, as simbool van Noel se heengaan.

Noel was 74 jaar oud en het al vir 46 jaar, sedert 1971, radiobeheerde vliegtuie gevlieg. Hy is voorverlede Vrydag skielik aan ‘n hartaanval by sy huis dood.
Hy was vir 20 jaar by die destydse Universiteit van die Noorde se Landboufakulteit betrokke waar hy sy kennis en ondervinding van modelvliegtuie ingespan het vir die neem van lugfoto’s vir plaasbeplanning, identifikasie van plantsiektes, evaluering van besproeiingseffektiwiteit, identifisering van stikstoftekorte en grondsoorte asook vir die sensus van bome in boorde. Hy het hommeltuie (drones) gebou vir lugfotografie en navorsing daarmee gedoen. Hy het dit ook in Kanada en Taiwan bekendgestel en gedemonstreer op lugskoue.
Hy was die oudste lid van die Capricornklub, asook erelid van die Area 51 Modelvliegklub en het talle medaljes en sertifikate ontvang vir prestasies hier en oorsee. In 1981 het hy Springbokkleure ontvang by die SA Spele vir Radiobeheerde Skaalmodel Vliegtuie. Noel was ook ‘n gekwalifiseerde beoordelaar vir akrobatiese vlugvliegtuie, skaalmodelle en ‘jets’ en South African Model Aircraft Association (Samaa) toets-instrukteur vir graderings. Hy het in 1988 by die plaaslike klub aangesluit en het talle modelvlieëniers geleer vlieg en om solo te gaan en was ook bouer en beoordelaar van modelvliegtuie. Hy het oor die jare aan sewe groot klubs behoort, vanaf Kaapstad tot in Polokwane.
Noel was vir meer as 25 jaar by die bestuur van die Capricornklub betrokke. Hy het ook sedert 1996 ‘n winkel gehad waar modelvliegtuiggeesdriftiges enigiets wat hulle nodig gehad het kon aankoop vir hul stokperdjie.
Noel het groot waardering gehad vir sy vrou, Marijke, wat hom bygestaan het deur vier rugoperasies en gehelp het om sy stokperdjie te help beoefen. Sy vertel dat sy sover as vanuit Japan oproepe gekry het om hulde te betoon aan Noel na sy afsterwe.
Noel laat sy vrou van 22 jaar, Marijke, agter, asook ‘n dogter, Charmaine Kroeger, en twee kleinkinders. Marijke wil graag haar dank betuig teenoor die lede van die twee vliegklubs, Capricorn en Area 51, dr. JJ Kruger, ds. Dopper Erasmus en Henk Joubert, asook Pieter Smith en ander vriende en familie vir hulle hulp en bystand gedurende die afgelope tyd.
nelie@nmgroup.co.za




