Local NewsNews

EQ4Kids – ontwikkel jou kind se emosionele brein

Marise van Wyk, eienaar van die konsessie EQ4Kids Polokwane, vertel dat die emosionele brein vinniger ontwikkel as die logiese brein.

POLOKWANE – Emosies is nie aldag maklik om te beheer nie, wat nog te sê as jy ‘n kind is en dit nog nie eers heeltemal verstaan nie.

Dit is juis hiér waar EQ4Kids kinders help om meer oor hulle emosies te leer en te verstaan. EQ4Kids is ‘n program wat geskep is met die oog om kinders emosioneel te lei en toe te rus om suksesvolle bydraende volwassenes te word.

“Kinders moet leer om oor hulle emosies te praat want dit bou hulle selfvertroue,” verduidelik sy.

Marise het na skool au-pair werk gaan doen en met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy besigheidsbestuur studeer. Na haar studies het sy en ‘n vriendin, Melanie Enslin, EQ4Kids Pretoria Oos begin en het reeds ongeveer 100 kinders wat hulle help om meer oor hul emosies te leer.

“Ons help nie net kinders nie, maar bied ook opleiding aan ouers deur ‘n ouerbrief. Ek het hierdie jaar by Oosskool en Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum begin om daar van waarde te wees vir die kinders.”

Sy maak gebruik van ‘n mat met vier kleure, rooi, geel, blou en groen, om met haar opleiding te help. Kinders kom in en gaan sit dan op elke kleur. Die kleure verteenwoordig gelukkig (geel), skaam (groen), kwaad (rooi) en hartseer (blou).

“Die kinders word aan die begin van die les gevra waarom hulle voel soos wat hulle voel, en dikwels word die emosie verander. Geel-kinders is meer sosiaal, terwyl rooi-kinders jou leiers is. Blou-kinders hou weer van struktuur en beplanning terwyl groen-kinders vredeliewend is.”

Sy vertel dat tegnologie goed is, maar dat dit verhoed dat kinders in hul verhouding met ander mense groei. Nog ‘n faktor wat ‘n rol speel in hoe kinders hul emosies hanteer is ouers se werksure en die veranderende familiestukture.

“‘n Kind se IK en EK moet albei ontwikkel. Kinders moet leer om situasies reg te lees. Indien hulle nie hul emosies kan beheer nie, kan hulle nie goeie maats wees nie. Ons leer ook die kinders van vroeg af oor boelies en hoe om hulle te hanteer. Kinders word geleer hoe om dit te hanteer as ander kinders hulle uitsonder omdat hulle ‘anders’ is.”

Volgens Marise help emosionele volwassenheid dat kinders nie sommer swig onder groepsdruk nie. Hulle wil ook graag ouers toerus om hul kinders te help deur werkswinkels aan te bied.

“Ouers wil meer gee, maar dis nie noodwendig goed nie. Gee eerder meer aandag en meer tyd aan jou kind. Dis belangrik om te onthou dat dit was jy as belangrik ag, gaan jy aan jou kinders leer.”

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button